|

AfriForum nader minister van polisie vir antwoorde oor generaal se wapen

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n skrywe aan Bheki Cele, minister van polisie, gerig nadat dié organisasie geen terugvoer van die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, ontvang het nie. AfriForum het Sitole in September versoek om ondersoek in te stel na die beweerde nalatigheid van die Noord-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Risimati Shivuri, nadat sy diensvuurwapen in September glo gesteel is.

Die media het berig dat Shivuri na bewering nalatig was deur sy diensvuurwapen by ’n karwassery in sy voertuig agter te laat. Die vuurwapen is glo daarna uit die voertuig gesteel. Daar is boonop berig dat Shivuri ten tyde van die voorval na bewering nie ’n geldige permit vir die vuurwapen gehad het nie.

“Ons het geen terugvoer van die nasionale kommissaris se kantoor ontvang nie. Daar is geen aanduiding dat die saak wel ondersoek word en watter vordering daar gemaak is nie. Dus verskerp ons ons optrede en neem die saak nou na die minister vir aandag en optrede,” sê Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek.

Die polisieminister het op 28 Oktober 2019 op ’n parlementêre vraag gereageer en gesê bykans 500 diensvuurwapens is die afgelope drie finansiële jare verloor of gesteel terwyl polisiebeamptes van diens af was.

“As selfs ’n provinsiale kommissaris sy vuurwapen kan verloor, hetsy deur eie toedoen of andersins, skep dit die indruk dat die polisie van die hoogste tot die laagste rang, nie respek het vir die hantering en bewaring van ’n diensvuurwapen nie,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings