|

AfriForum na VSA oor onteiening sonder vergoeding

’n Afvaardiging van AfriForum vertrek volgende week na die VSA om die eerste been van dié organisasie se internasionale veldtog teen onteiening sonder vergoeding van stapel te stuur.

Dít volg nadat die EFF se mosie vir die onteiening van grond sonder vergoeding, ’n omstrede beleid wat ook deur die ANC ondersteun is, vroeër vanjaar in die parlement aanvaar is en moontlik op ’n wysiging van die Grondwet kan uitloop.

Die organisasie beplan om met regeringsverteenwoordigers, navorsingsinstellings, die media en potensiële beleggers in die buiteland oor die saak te vergader ten einde die internasionale gemeenskap te mobiliseer om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om nie met sy onteieningsbeleid voort te gaan nie.

Afvaardiging sal Australië en Europa ook later besoek.

Volgens Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, word die organisasie daarvan beskuldig dat hulle ’n desinvesteringsveldtog dryf maar dat dit egter nie geval is nie.

“Ons voel beleggers moet ingelig word oor die implikasies van onteiening sonder vergoeding om hul eiendomsreg te beskerm. Ons verkies desinvestering as dit tot politieke verandering sal lei, eerder as om terug te sit en te kyk hoe onteiening sonder vergoeding met verreikende gevolge geïmplementeer word.”

Die memorandum wat AfriForum vir die doel sal gebruik, is vandag aan die media bekend gestel. Luidens die memorandum het die regering se poging om grond sonder vergoeding te onteien ’n duidelik rassistiese motief.

Roets het tydens die konferensie kernprobleme van die regering se standpunt oor grondhervorming uitgelig. Hierdie probleme is:

  1. Die beleid is op ’n verdraaiing van Suid-Afrika se verlede geskoei;
  2. Die bewering dat daar ’n groot aanvraag na grond is, is vals – veral met betrekking tot landbougrond; en
  3. In gevalle waar die regering reeds by kwessies rondom eienaarskap van grond ingemeng het, was die gevolge katastrofies.

Volgens Roets hou die verdraaiing van die verlede veral verband met die aanname dat wit grondeienaars grond deur onderdrukking bekom het, terwyl die meeste grond in wit besit wel op ’n wettige wyse gekoop of bekom is.

“Daar was gevalle in die 1800’s waar onbesette grond deur Voortrekkers in besit geneem is. Verder is dit inderdaad so dat daar konflik tussen wit en swart stamme gedurende die Groot Trek was. Wat egter onder die mat gevee word, is dat konflik vir die doeleindes om grondgebiede te verower op daardie stadium algemene praktyk onder swart stamme was.”

Met betrekking tot die aanvraag na landbougrond het AfriForum vandag onthul dat 57,8% van grondeise tot op hede vir stedelike grond was – en nié landbougrond nie. Dit is ook reeds bekend dat 93% van diegene wat grondeise ingestel het, aangedui het dat hulle finansiële vergoeding bó grondrestitusie verkies.

Verder het die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR) bevind dat slegs 1% van mense in Suid-Afrika glo dat grondhervorming hul lewens sal verbeter.

Wat die derde probleem betref, meen Roets het die regering self toegegee dat meer as 90% van plase wat die staat aan swart eienaars oorgedra het, misluk het. “Hoewel die Suid-Afrikaanse regering reeds meer as R45 miljard aan grondhervorming bestee het, is slegs 6,3% van grond wat deur die staat sedert 1994 aangekoop is weer na privaatbesit omgeskakel.”

Tesame met die memorandum het AfriForum ook ’n verslag getiteld Land in South Africa – A Geospatial Perspective, bekend gestel. Dié verslag is opgestel deur Burgert Gildenhuys, uitvoerende direkteur van MapAble.

Die verslag dui onder meer aan dat 24,03% van grond in Suid-Afrika in staatsbesit is. Dit sluit in grond wat aan die staat behoort, tuislande en gedeeltes van tuislande asook gebiede onder natuurbewaring. Altesame 75,95% van grond is nie in staatsbesit nie.

Die verslag toon voorts dat wit mense 72% van privaatgrond in Suid-Afrika besit, oftewel 21% van die totale oppervlak van Suid-Afrika, en nie 72% van alle grond soos dikwels in die media voorgehou word nie.

Staatsgrond per provinsie, sien so daaruit:

  • Oos-Kaap 34,65%
  • Vrystaat 6,5%
  • Gauteng 19,90
  • KwaZulu-Natal 52,32%
  • Limpopo 42,66%
  • Mpumalanga 32,72%
  • Noord-Kaap 11,20%
  • Noordwes 31,99%
  • Wes-Kaap 15,59%
  • Totaal 24,03%

Roets het gesê hy glo dat grondbesit van veral plase, deur mense soos pres. Cyril Ramaphosa verromantiseer word en dat politici se uitlatings oor grondbesit teenstrydig is met bevindings van baie Suid-Afrikaanse navorsingsinstellings. “Die kleur van jou vel moet nie bepaal of jy ’n grondeienaar mag wees nie,” meen hy.

Soortgelyke plasings