|

AfriForum Mosselbaai-tak: ’n Suksesverhaal soos min

Die burgerregte-organisasie se Mosselbaai-tak is op 20 Maart 2012 met 20 lede gestig en sedertdien het dit gegroei na meer as 390 lede wat aktief betrokke is in Mosselbaai munisipale gebied.

Sedert die ontstaan van die tak is verskeie projekte aangepak en groot suksesse behaal. Daar kan met trots gesê word dat die samewerking met die munisipaliteit van ’n “wankelende begin tot ’n hartlike samewerking” gegroei het.

In Mosselbaai is die tak nie soos in menige ander dorpe en stede besig om infrastruktuur-gebreke te herstel nie. Die tak spits hom eerder toe op die voorkoming en oplossing van probleme.

Gedurende die groot brande in 2016/17, wat oor ’n  wye gebied in die Suid-Kaap gewoed het, is die behoefte aan ’n mobiele tydelike beheereenheid geïdentifiseer van waaruit die koördinering van brandbestryding kan plaasvind. ’n Karavaan is in die tweede helfte van 2017 aangekoop om aan dié behoefte te voldoen. Die behoefte vir veiligheidkoördinering is ook geïdentifiseer en nadat insette van die plaaslike GPF, buurtwagte en die munisipaliteit gekry is, is die karavaan in Oktober 2018 in gebruik geneem.

Sedertdien is die karavaan vir verskeie projekte ingespan soos tydens die jeugtak se deurnag Aflos vir Lewe-fondsinsamelingsprojek wat in samewerking met Cansa gehou is.

Tydens die Desembervakansie is die karavaan vanaf die De Bakke Strand-parkeerterrein gebruik om veiligheidsaksies te beheer. Dit is in samewerking met die GPF, die SAPD, munisipaliteit, sekerheidmaatskappye en buurtwagte gedoen. Alle aktiwiteite soos voertuig-, quadfiets-, perde- en voetpatrollies is vanuit die karavaan beheer en dit was ’n reusesukses.

Die tak het gedurende AfriForum se nasionale kongres in 2015 onderneem om die rehabilitasie van die Hartenbosrivier as ’n projek aan te pak ná die munisipale watersuiweringswerke se oorloop in dié rivier beland het.

Ná ’n uitgerekte stryd met die provinsiale departemente het die projek nou so ver gevorder dat dit aan die Hartenbos Rivierforum oorgedra is wat dit in samewerking met die munisipaliteit bedryf. Tydens die projek is aandag aan visvrektes en die oopmaak en skoonmaak van die riviermond gegee.

 

Mosselbaai spog ook tans met twee goed opgeleide plaaswagte naamlik die Groter Brandwag- en Herbertsdale Plaaswag. Beide die plaaswagte is aktief in die landelike gebiede betrokke en lewer ’n groot bydrae om plase te beveilig. Die buurtwagte het goed opgeleide en toegeruste proto-spanne wat tydens enige noodsituasie kan optree.

Daar word ook maandeliks gratis Krav Maga-heropleiding deur Tiger Kai gedoen om te verseker dat die spanne altyd paraat is. Veiligheidsopleiding vind ook gereeld by skole en in die gemeenskap plaas.

Mosselbaai spog ook met een van die mees aktiewe Jeugtakke. Benewens die Cansa-fondsinsamelingsprojek, was hulle ook betrokke by  boomplantaksies, die insameling van toerusting vir brandslaners tydens veldbrande en fiksheid- en sosiale aktiwiteite.

Die bestuur van die AfriForum Mosselbaai-tak doen ’n beroep op alle AfriForum-lede in Mosselbaai om betrokke te raak by die tak se aktiwiteite. Belangstellendes kan Louis Cook by 082-097-4560 of Joy Cook by 082-493-3251 kontak.

Soortgelyke plasings