|

AfriForum monitor steeds openbare vergaderings oor onteiening

Verteenwoordigers van AfriForum gaan vandeesweek volstoom voort om die organisasie se standpunt oor onteienings sonder vergoeding by openbare vergaderings landwyd te stel.

AfriForum is teen die wysiging van artikel 25 van die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding moontlik sal maak.

Die burgerregte-waghond se standpunt in die algemeen is dat die huidige konsultasieproses onvoldoende en onbillik is. Daar word egter aan die proses deelgeneem omdat belangrike inligting ter tafel gelê moet word.

AfriForum is voorts van mening dat die regering ’n dwaling begaan deur te dink en voort te hou dat alle swart mense deur alle wit mense van alle grond onteien is. Wit mense het die grond wettiglik bekom en gekoop.

Wat die beginsel van onteiening sonder vergoeding betref, wys AfriForum op die negatiewe ekonomiese gevolge en die verlies aan beleggersvertroue.

AfriForum is ook van mening dat huidige meganismes in die Grondwet doeltreffend gebruik kan word om grondhervorming toe te pas.

Die openbare vergaderings gaan vandag en môre voort is Ermelo, Nelspruit en Botshabelo en Welkom.

In Nelspruit het Julius Malema, leier van die EFF, ook vir die vergadering opgedaag. Meer as ’n duisend mense is teenwoordig.

Johann Weber, hoof van gemeenskapstrukture by AfriForum, het tydens die vergadering in Kimberley gesê as artikel 25 van die Grondwet verander word, verander dit die wese van demokrasie. “Die grondslag van die land sal vernietig word.”

Hy het gesê die aanname dat 87% van grond in wit besit is, is vals.

Die regering besit byna die helfte van die land en as hy grond wil herverdeel moet hulle by dié grond begin.

Weber het gesê grond is nie Suid-Afrikaners se probleem nie. Hulle is besorg oor werksgeleenthede, misdaad en swak onderwys

Wico Swanepoel, regsadviseur: plaaslike korrupsie, het buite Tzaneen, gesê AfriForum is gekant teen wysiging van artikel 25 van die Grondwet. Hy het gesê die openbare vergadering is ongeorganiseerd, diskriminered en uitsluitend van die werkersklas.

Onteiening sonder vergoeding is gegrond op ’n verdraaide siening van die geskiedenis. En dit is ’n poging deur die regering om sy eie foute te probeer verbloem. “Die regering probeer die guns van die kiesers wen deur iets te implementeer wat verkeerd is. Ons is ten gunste van restitusie, maar nie herverdeling nie. Herverdeling is ’n rassistiese oefening waar die ras van die eienaar bepaal of hy of sy die werklike eienaar is.

“Onteiening sonder vergoeding het die potensiaal om die ekonomie te vernietig. Die roete om te gaan is vir die regering om titelaktes aan miljoene swart mense te gee wat reeds op staatsgrond bly.”

Henk Maree, hoof van AfriForum Jeug, het in Kuruman tydens ’n aanbieding gesê indien artikel 25 van die Grondwet gewysig word, daar steeds geen waarborg vir die inwoners van die land is dat hulle die wettige eienaars van die grond sal word nie. Dit sal die regering net die mag gee om privaatgrond te onteien en hulle sal die wettige eienaars daarvan word. “Nêrens in die wêreld het die beginsel van onteiening sonder vergoeding gewerk nie. Kyk maar wat in lande soos Zimbabwe en Venezuela gebeur het. As die beleid so goed gewerk het, waarom is daar so baie Zimbabwiërs wat in Suid-Afrika na werk soek?”

Soortgelyke plasings