|

AfriForum monitor onderwyswetwysigingsproses om leerders en ouers se regte te beskerm

AfriForum het, na aanleiding van die jongste mediaberigte oor beplande wysigings aan onderwyswetgewing, opnuut kommer uitgespreek oor die ingrypende aard van die voorgestelde wysigings en die onduidelikheid oor die proses wat gevolg word.

Wysigings aan die bestaande Skolewet is reeds in 2017 deur die departement van basiese onderwys voorgestel. AfriForum het destyds met ’n omvattende regsmening daarop gereageer en onder meer ook ’n vergadering van die parlementêre portefeuljekomitee daaroor bygewoon.

Pas voor Kersfees 2019 is berig dat ’n wetsontwerp nou weer deur die departement vir openbare kommentaar uitgereik is en dat die sperdatum vir sodanige insette 15 Januarie 2020 is. By nadere ondersoek het dit geblyk dat dit ’n werksdokument is wat die departement slegs aan ’n klein groepie belanghebbendes voorgelê het. Dit is nog nie vir openbare kommentaar beskikbaar nie ‒ slegs die kommentaar van hierdie werksgroep sal tans aanvaar word.

AfriForum se regspan dra wel kennis van die werksdokument. Besware wat in 2017 oor die voorgestelde wysigings uitgespreek is, word nie hierdeur besweer nie – in teendeel, dit lyk na ’n blote voortsetting van die departement se pogings om onder meer ouers se betrokkenheid by skole te erodeer en mag toenemend binne die departement te sentreer.

AfriForum het destyds al uitgewys dat die skole wat die ergste deur hierdie wetsontwerp geraak gaan word, juis dié is wat tans die beste gehalte onderrig bied. Ongeag die sosio-ekonomiese omstandighede van gemeenskappe, is die skole wat die beste presteer, dié wat betrokke ouergemeenskappe het. AfriForum volstaan by die standpunt dat ouers die reg het om oor die onderrig van hulle kinders te besluit – ’n reg waarvoor die bestaande wetgewing voorsiening maak.

In ’n dringende skrywe aan die departement se direkteur van regsdienste, het AfriForum om versekering gevra dat die voorgestelde wetswysigings wel weer gepubliseer gaan word om ’n verdere geleentheid vir openbare konsultasie en kommentaar aan die breë publiek, skoolgemeenskappe en beheerliggame te bied. Geen antwoord is nog hierop ontvang nie, maar AfriForum sal die verdere proses nougeset moniteer om te verseker dat die regte van leerders, ouers en beheerliggame beskerm word.

Soortgelyke plasings