|

AfriForum moniteer onderwyswetwysigingsproses – geleentheid vir openbare kommentaar kom

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, gaan volgens mediaberigte vandeesweek verder met enkele belanghebbendes oor die inhoud van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Engels: Basic Education Laws Amendment Bill of BELA Bill) konsulteer. Dié wysigingswetsontwerp is ’n voortsetting van ’n proses waarop AfriForum reeds in 2017 met ’n omvattende regsmening gereageer het waarin die kommer uitgespreek is oor die staat se poging om meer mag in die departement te setel en ouergemeenskappe van seggenskap in hul kinders se onderwys te ontneem.

Volgens die berigte en kommunikasie van die departement se regsafdeling, sal meer belanghebbendes die geleentheid kry om insette oor die wysigingswetsontwerp te lewer wanneer die Parlement dit vir kommentaar publiseer.

Soos wat AfriForum reeds in 2017 beklemtoon het, is die skole wat die ergste deur hierdie wetsontwerp geraak gaan word juis dié wat tans die beste gehalte-onderrig bied. Ongeag die sosio-ekonomiese omstandighede van gemeenskappe, is die skole wat die beste presteer dié waarby ouergemeenskappe betrokke is. AfriForum hou vol dat ouers die reg het om oor die onderrig van hul kinders te besluit – ’n reg waarvoor die bestaande wetgewing voorsiening maak. Dit sluit ook in dat hulle oor die taal van onderrig moet kan besluit.

AfriForum sal die verdere proses nougeset moniteer om te verseker dat die regte van leerders, ouers en beheerliggame beskerm word.

Soortgelyke plasings