|

AfriForum moedig prestasie in Afrikaans aan

Die burgerregte-organisasie het vandag wisseltrofees vir die beste prestasie in Afrikaans aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria geskenk.

Leerlinge in gr. 8 – gr.12, wat die beste in Afrikaans as vak vaar, sal voortaan jaarliks met dié trofees aangemoedig en beloon word.

Heslea van Eck, departementshoof in Afrikaans by die skool, sê dit is belangrik dat leerlinge bewus moet wees dat hulle makliker in hul moedertaal dink.

“Ons het vandag ’n stryd in skole, nie soseer vir die behoud van Afrikaans nie, maar om dit te bevorder. Dit is baie belangrik en noodsaaklik dat ’n liefde vir jou moedertaal bevorder word. En daarom glo ek moet ’n kind wat sy moedertaal goed kan gebruik, ook erkenning kry.”

Van Eck het ook na AfriForum se Dink of Sink-debatskompetisie verwys en gesê die waarde van dié inisiatief kan nie onderskat word nie. “Die feit dat dit onvoorbereide debat is, maak dit net soveel meer sinvol. Kinders bemeester ’n vaardigheid wat hulle hul lewe lank kan gebruik en dit leer hulle om vir hulself te dink. Die onderwerpe word ook só gekies dat leerlinge uit die hart kan redeneer.”

Sy is ook baie trots daarop dat AHMS vanjaar met die louere in die junior-afdeling van die kompetisie weggestap het, terwyl Afrikaans Hoër Seunskool se seniorspan koning gekraai het. “AfriForum kan met reg baie trots op hierdie inisiatief wees,” sê Van Eck.

Carien Bloem, bestuurder van onderwys by AfriForum, sê dit is lekker om by skole betrokke te wees wat prestasie in Afrikaans aanmoedig en beloon.

*Foto: Carien Bloem, bestuurder van onderwys by AfriForum, oorhandig een van die wisseltrofees aan Xanthe van Zyl. Agter hou Annemie du Plooy, Moné Potgieter en Janké Roesch van die trofees vas.

Soortgelyke plasings