AfriForum: “Met volharding oor onteiening sonder vergoeding in staatsrede, dobbel president met almal se toekoms”


Volgens AfriForum het die staatsrede wat vanaand deur pres. Cyril Ramaphosa gelewer is, helaas geen gerusstelling aan buitelandse of plaaslike beleggers gebied nie, maar juis rede vir groter onsekerheid en kommer geskep.

“Die president ignoreer die waarskuwings van die vernaamste beleggers in Suid-Afrika – soos wat duidelik uit die kontroversiële diplomatieke memorandum van die VSA, VK, Duitsland, Nederland en Switserland wat die afgelope naweek aan die lig gekom het, blyk – deur hardkoppig te volhard met planne vir die implementering van onteiening sonder vergoeding,” sê Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum.
“Duidelik ignoreer die president die voorbeelde van lande soos Venezuela en Zimbabwe wat die rampspoedige gevolge van soortgelyke programme ervaar en dobbel met die toekoms van almal in die land.”

Volgens Bailey het die president in die staatsrede voorgegee dat entrepreneurskap bevorder en ongelykheid omgekeer kan word deur ’n herverdeling van eiendom, maar deur die wêreld is telkemale bewys dat die beskerming van privaat eiendomsreg die sleutel tot ekonomiese ontwikkeling bied.

“Verder is so min owerheidsregulering as moontlik, asook beleidsekerheid nodig om die ekonomie te laat groei. Die staatsrede het egter geen gerusstelling of duidelikheid op dié terreine gebied nie. In teendeel, met verwysings na die voortsetting van BBSEB en die mededingingswysigingswetsontwerp, het die president die indruk geskep dat regulering nog meer verskerp gaan word.”

Bailey beklemtoon dat AfriForum besef dat staatsredes in die maande voor ’n nasionale verkiesing gewoonlik geneig is om kiesers en afvallige partygenote te probeer paai, maar in die ekonomiese krisistoestand waarin die land tans verkeer, veral wat die skaal van werkloosheid, korrupsie en misdaad aanbetref, is dit teleurstellend dat die president nie sterk leierskap kon toon om van populistiese beloftes van kitsoplossings soos onteiening sonder vergoeding af te sien nie, maar steeds op hierdie selfvernietigende pad voortstu.

“Waar menseregte soos privaat eiendomsregte geskend word, het ekonomiese groei nog nooit gevolg nie en was die slagoffers deurgaans die mees weerlose mense wat sogenaamd by herverdelingsprosesse moes baat. Al die mooi beloftes wat president Ramaphosa dus in die staatsrede oor opheffingsprogramme gemaak het, is tot mislukking verdoem, tensy eiendomsregte beskerm word,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings