AfriForum meen enkele matriekeksamen sal ideologie dien, nie leerders nie


AfriForum beskou die voorstel van Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR vir onderwys, dat alle matriekleerders dieselfde matriekeksamen moet skryf as ’n verdere poging van die regerende party om ’n eenvormige stelsel met gebreke en al op alle leerders af te dwing, ten koste van die eiesoortige behoeftes van gemeenskappe.
Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder van onderwys by AfriForum, gebeur dit toenemend dat Suid-Afrikaanse onderwysowerhede wat met hulle eie disfunksionaliteit gekonfronteer word eerder suksesvolle skole in die land probeer blameer as om dié probleme aan te pak.

“Lesufi gee voor dat leerders wat die eksamen van die Onafhanklike Eksamenraad (OER) skryf, ryk is, teenoor diegene wat die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) eksamen skryf en dus arm is. In die praktyk kom ’n wye spektrum van uiters arm tot besonder welvarende skole in beide stelsels voor. Die feit dat leerders presteer wat die OER-eksamens skryf, is te wyte aan die spesialisasie wat in dié skole moontlik is, teenoor openbare skole waar klasgroepe dikwels groter is of waar daar geen spesialisaandag aan die gemeenskapsbehoeftes van die leerders gewy kan word nie.”

Bloem sê voorts dat graderingstelsels aangepas kan word om al die matrikulante se prestasies te evalueer. Sy meen dat dit dus ook nie ’n rede vir ’n eenvormige matriekeksamen is nie. Internasionaal is daar begrip daarvoor dat stelsels uiteenlopende behoeftes moet kan akkommodeer.

“As daar persepsies bestaan dat NSS-leerders ’n akademiese agterstand het of armer is, moet dié persepsies besweer word deur te verseker dat dié skole ten volle funksioneel word en die gehalte van onderrig uitnemend is. Suid-Afrika is tans een van die wêreldlande wat die grootste persentasie van sy begroting aan basiese onderrig bestee, naamlik 17,5% van die gekonsolideerde nasionale begroting. Verbetering in openbare skole is dus beslis moontlik. Onafhanklike skole kan nie weens persepsies benadeel word nie – niemand gaan daarby baat vind nie,” sê sy.

AfriForum verwelkom die voorstel dat dié knelpunt gedebatteer word. Die organisasie vertrou ook dat alle belanghebbendes by so ’n proses betrek sal word om te verseker dat leerders nie verder benadeel word in pogings om die aandag van onderwysowerhede se onvermoë af te lei nie.

Soortgelyke plasings