AfriForum: “Matrieksyfers toon tereg gebrek aan vertroue in openbare onderwys”


AfriForum wens alle matrikulante wat in 2017 hulle skoolloopbaan suksesvol voltooi het, van harte geluk.  Hulle prestasie is te wyte aan hulle harde werk en aan onderwysers wat ten spyte van vele uitdagings in die onderwyssektor, steeds eilande van uitnemendheid handhaaf.  Ons salueer hulle!
Die afgelope aantal jare word sogenaamde voortdurend verbeterende matriekslaagsyfers telkens gevier.  Vanjaar is geen uitsondering nie.  Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, fokus haar organisasie egter op die groep leerlinge wat nooit eens matriek gehaal het nie.
Volgens die statistiek van die departement van basiese onderrig, het 1 185 198 leerlinge hulleself in 2006 in graad 1 bevind.
[i]  Die syfer wat vandag genoem is, is 1 186 011 leerlinge.[ii]
Van hulle was 29 569 in sogenaamde onafhanklike instellings, met ander woorde privaatskole.  Daarteenoor het 112 130 matrikulante vanjaar die Onafhanklike Eksamenraad se matriekeksamen afgelê, waarvan 98,76% boonop geslaag het.  Hierdie fenomenale groei in leerlinge in die privaatsektor is enersyds die gevolg van die toename in privaat onderriginstellings die afgelope jare, maar wys ook op Suid-Afrikaners se stygende wantroue in die land se openbare onderrigstelsel.
In plaas daarvan om van die tendens en sukses kennis te neem en die beste praktyke van dié skole te probeer kloon, is Gauteng se LUR van onderwys, Panyaza Lesufi, se enigste oplossing dat alle skole in die land gedwing moet word om een eksamen te skryf.  Dit dui op die staat se totale gebrek aan insig in gesonde onderwysbeginsels en die ideologiese gedienstigheid aan ’n kultuur van middelmatigheid wat sukses op alle terreine in die land kniehalter.
In 2006 was daar 1 155 629 graad 1-leerders in openbare skole.  Soos die departement self erken, het minder as twee derdes van hulle nou matriek geslaag.  Van hulle het duidelik na privaat instellings gemigreer, maar die res het dus selfs nie eens die fondament van ’n matrieksertifikaat waarop hulle aan hulle toekoms kan begin bou nie.

“Dit bly dringend noodsaaklik dat die departement van basiese onderwys aanspreeklikheid aanvaar en leierskap toon om probleme soos ’n gebrek aan moedertaalonderrig, ondoeltreffende kurrikulumopsies, verlammende optrede deur sommige onderwysvakbonde, ontoereikende opleidingsgeleenthede vir onderwysers, aanvegbare onderwyswetsontwerpe, disfunksionaliteit van skole en dissiplineprobleme die hoof te bied,” verklaar Bailey.
“Tot dit geskied, is die jaarlikse viering van ’n sogenaamde verbeterde matriekslaagsyfer misplaas en word ’n onaanvaarbare hoë aantal jongmense in die steek gelaat.”

[i]. http://www.dhet.gov.za/DHET%20Statistics%20Publication/DoE%20Stats%20at%20a%20Glance%202006.pdf
[ii]. Met dank aan Netwerk 24: https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/regstreeks-matrieks-se-uitslae-amper-hier-20180104

Soortgelyke plasings