AfriForum maan munisipaliteit aan oor gehalte van waterbronne


Die AfriForum-tak in Secunda het op 10 Julie 2017 ’n aanmaning aan die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit gestuur oor die voortdurende haglike toestand van dié dorp se rioolaanlegte en -pompstasies. Die aanmaning eis dat die munisipaliteit voor 18 Julie 2017 antwoord met ’n plan om die besoedeling stop te sit. AfriForum het tot op hede geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.
Dít volg nadat AfriForum na afloop van hul nasionale blou-en-groendruppelprojek gedurende Junie en Julie 2017 verdere ondersoek ingestel het na die watergehalte van riviere en spruite in Trichardt, Evander, Kinross en Secunda. Watertoetse is deur ’n geakkrediteerde waterlaboratorium gedoen en ’n versoekskrif is aan mnr. Melatoe, die waarnemende munisipale bestuurder, gerig met die versoek dat die munisipaliteit dringend aandag aan die waterkwessie gee.

“Die AfriForum-tak in Secunda is bekommerd oor die toestand van dié gebiede se riviere en spruite, aangesien nie een van die toetse gewys het dat die water op standaard is nie. Die toetse dui daarop dat rioolstorting in die omgewing plaasvind,” sê Hillel Coetzer, streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.

AfriForum beplan om verdere stappe te neem en die nodige owerhede van die situasie in kennis te stel.
Ondersteun jou plaaslike AfriForum-tak deur by dié inisiatief betrokke te raak.

Soortgelyke plasings