|

AfriForum maan lede om veilig te wees tydens verkiesing

Die burgerregte-organisasie het sy lede gewaarsku om waaksaam te wees tydens die munisipale verkiesing eerskomende Woensdag.

Die waarskuwing is veral van toepassing in gebiede soos die groot metro’s waar voorspellings gemaak is dat die ANC sy meerderheidsteun kan verloor.

Verskeie ontleders het in die naweek aangedui dat koalisies gevorm kan word en dat die ANC se steun tot onder 60% kan daal. Die groot stryd sal in Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai gevoer word.

Die ontleders is dit eens dat die stemuitslag deur ’n paar faktore bepaal sal word soos ANC-ondersteuners wat na die EFF kan swaai, meer moedelose ANC-ondersteuners wat vir die DA gaan stem of meer stemgeregtigdes wat in elk geval hul vertroue in die regering en land verloor het en glad nie by die stembus gaan opdaag nie.

AfriForum as burgerlike organisasie is by geen politieke party geaffilieer nie en moedig landsburgers aan om hul plig en verantwoordelikheid na te kom deur aan die verkiesing deel te neem.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het gesê die marknavorsingsgroep Ipsos het met vorige verkiesings akkurate voorspellings gemaak en vanjaar weer aangedui dat opposisiepartye die ANC moontlik in verskeie gebiede die loef kan afsteek. “Onluste en konflik landwyd word in veral dié gebiede verwag. Dit is daarom belangrik dat mense op stemdag sowel as in die komende weke paraat moet wees en verantwoordelik moet optree.”

Onlangse geweld het in en rondom Pretoria uitgebreek waar ANC-ondersteuners onder meer busse en geboue aan die brand gesteek het oor ontevredenheid rondom Thoko Didiza as burgemeesterskandidaat.

Van die brandpunte in ander provinsies is:

Gauteng: Soshanguve, Ga-Rankuwa, Atteridgeville, Mamelodi, Hammanskraal, Tembisa, Pretoria Sentraal, Sharpeville informele nedersetting, Eersterust en Philip Nel Park.

KwaZulu-Natal:  Tongaat, Pinetown, Newlands, Madadeni, Umbumbulu, Durban, Ulundi, Empangeni en KwaMashu.

Wes-Kaap: Phillipi, Khayelitsha en Kaapstad.

Noordwes: Potchefstroom, Hebron, Marikana, Rustenburg, Mahikeng, Zeerust, Swartruggens, Boitumelong, Bloemhof, Mmabatho en Christiana.

Mpumalanga: Nelspruit, Delpark, Bosbokrand en Kanyamazane.

Limpopo: Tzaneen, Nylstroom en Pietersburg.

Vrystaat: Bloemfontein, Sasolburg en Zamdela.

Oos-Kaap: King Williamstown, Bisho, Butterworth, Govan Mbeki informele nedersetting, Oos-Londen en Mdantsane.

Noord-Kaap: Kimberley, Upington en Danielskuil.

AfriForum het ’n paar veiligheidswenke vir verkiesingsdag opgestel:

  1. Parkeer jou motor op ʼn veilige plek waar toesig gehou word.
  2. Vermy stempunte waar daar onrus plaasvind.
  3. Vermy konflik of konfrontasies in stemrye.
  4. Probeer om vroeg reeds by jou betrokke stempunt te wees.
  5. Probeer om saam met iemand te gaan stem.
  6. Rapporteer enige intimidasie.
  7. Rapporteer enige insidente op die AfriForum Toep (AfriForum Verkiesingswaghond).

Die AfriForum Toep behels dat waarnemers wat deur die organisasie aangestel en geregistreer is, op stemdag by meer as 150 stempunte sal wees om as waghond op te tree.

Die waarnemers sal onder meer die stem- en telproses, asook die gedrag van die kiesbeamptes waarneem. AfriForum is ook as waarnemer by die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) geregistreer.

Die toep sal waarnemers in staat stel om die stemproses by die onderskeie stempunte aan die hand van 42 vrae korrek te evalueer en terugvoer te gee wat onmiddellik aan toep-gebruikers beskikbaar sal wees om hulle deurlopend op hoogte te hou.

Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslike regeringsake, sê met die toep kan die publiek saam met waarnemers die waghondfunksie vervul en verseker dat die stemproses regverdig en georden verloop.
Die vraelys kan ook op AfriForum se webtuiste afgelaai word. Die uitslae van die waarneming kan ook per e-pos aan verkiesings@afriforum.co.za gestuur word.

 

 

 

 

Soortgelyke plasings