|

AfriForum maak voorstelle aan NIOS nadat epidemiologieverslag wéér met foute gepubliseer word

AfriForum het vandag in ’n brief aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) kommer uitgespreek oor die interne hersieningsprosesse en die verslagskrywingmetodologie wat deur die NIOS gevolg word. Die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) het vasgestel dat die totale getal bevestigde COVID-19-gevalle vir die ouderdomsgroep 35–39 verkeerdelik as 9 794 in die hergepubliseerde epidemiologieverslag vir week 25 aangedui word, terwyl dit in werklikheid 13 164 is.

Dít volg nadat ANI op 29 Junie 2020 ’n brief aan die NIOS gestuur het om ander foute in die oorspronklike verslag uit te wys. NIOS het op 30 Junie skriftelik gereageer, verskoning vir die foute aangebied en daarop ’n veranderde verslag gepubliseer.

AfriForum het nou versoek dat die NIOS hul interne verslaghersieningsproses asook die verslagskrywingsmetodologie wat gevolg word, verskaf.

AfriForum het verder ook voorgestel dat die volgende stappe gedoen word, wat behels dat:

  • ’n verslag hersien word deur direkte vergelyking met die voorafgaande verslag;
  • ’n lys van vinnige kontroles opgestel word vir die identifisering van foute;
  • dataontledingsagteware opgestel word om ook kontroleberekeninge te doen;
  • dataontledingsagteware opgestel word sodat syfers na verslae gekopieer kan word; en
  • onverwerkte data aan verslagsamestellers en ontwerpers verskaf word sodat hulle ook akkuraatheid kan nagaan.

“Dit is onaanvaarbaar dat daar weer ’n fout in ’n verslag is nadat foute in ’n vorige weergawe van dieselfde verslag reeds deur ’n derde party geïdentifiseer en gerapporteer is. Dit is baie duidelik dat gemeenskapsinstellings soos AfriForum onontbeerlik is in die stryd om die beskerming van burgers se belange,” sê Barend Uys, hoof van Navorsing en Ontwikkeling by AfriForum.

Lees die verslag hier.

Soortgelyke plasings