AfriForum maak voorstelle aan Nersa oor elektrisiteitstariefverhoging


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 11 Julie 2019 voorstelle ingedien en voorstelle aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) gemaak, asook ’n moontlike oplossing voorgestel ná die afgelope maand se elektrisiteitsdebakel. Dié aksie het gevolg nadat Nersa ’n openbare vergadering aangekondig het waartydens AfriForum sy insette gelewer het.

Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, het aan Nersa voorgestel dat die Tshwane-metro die nuwe verhoogde tarief moet laat vaar en die vorige, goedgekeurde tarief van die 2018/2019-termyn moet implementeer met ’n verhoging wat Nersa moet oorweeg.

“Hierdie voorstel is vir AfriForum die enigste oplossing wat die Tshwane-metro op die oomblik kan implementeer wat wettig, billik en deursigtig is. Verbruikers sal presies weet waarvoor hulle betaal en dit is ’n struktuur waarmee hulle bekend is. Armer mense sal ook nie so erg deur die verhoging geraak word soos met die huidige geïmplementeerde tarief nie. Dit sal ook aan die metro die geleentheid gee om steeds hul gelde in te win.”

Nersa het streng uitgevaar teenoor die Tshwane-metro oor die onvolledige aansoek om toestemming te kry vir die implementering van die verhoogde tarief. Nersa het verder gesê dat die Tshwane-metro sewe dae het om aanvullende inligting aan hulle te verskaf oor waarom die elektrisiteitstarief verhoog moet word. Hierdie aksie het gevolg nadat Nersa die Tshwane-metro gevra het om vir hulle redes te gee vir die verhoogde tarief en die metro nie een rede kon verskaf nie. Die Tshwane-metro het ook versuim om die koste van verskaffing saam met die aansoek by Nersa in te dien. Volgens wet moet die metro hierdie dokumente indien as daar ’n wesentlike struktuur- en kosteverandering in die verhoogde elektrisiteitstarief plaasvind.
Die Tshwane-metro het ook in sy voorlegging aan Nersa en deelnemende belanghebbendes gesê die totale verhoging is nie bo 13,8% soos deur Nersa se riglyne vir munisipaliteite voorgestel is nie. Mostert sê egter dit is nie die geval nie.

“Volgens AfriForum en ander belanghebbendes se berekeninge kom die totale verhoging van elektrisiteit neer op ’n persentasie ver bo die voorgestelde riglyn. Dit is egter deel van die redes waarom AfriForum die saak so hard teenstaan.”

AfriForum sal steeds voortgaan om die saak fyn dop te hou om te verseker dat geregtigheid geskied en ’n billike tarief, wat nie die inwoners van Pretoria benadeel nie, geïmplementeer word.
Sluit vandag nog by AfriForum aan en help ons om die saak te beveg: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings