AfriForum maak vleiland in Moreletapark-natuurreservaat skoon


AfriForum het op 13 Februarie die vleiland in die Moreletapark-natuurreservaat skoongemaak nadat onlangse harde reën hope vullis in die stormwaterkanale laat afspoel en deur die spruit tot binne in die vleiland gevoer is. Dié aksie is ook ter viering van Wêreldvleilanddag wat op 2 Februarie vanjaar plaasgevind het.
AfriForum het in 2018 deel van die Gauteng-vleilandforum geword. Weens dié deelname is AfriForum nou in staat om met verskeie rolspelers (onder andere die departement van water en sanitasie) te skakel en insette te lewer om sodoende ons vleilande te beskerm.

“Vleilande is van kardinale belang omdat dit soos natuurlike opgaardamme funksioneer. Tydens swaar reën of donderstorms suig vleilande die water soos ’n spons op en stel dit dan weer deur die res van die jaar stadig vry. Sonder dié vleilande spoel dié afloopwater onmiddellik weg. Sowel vloede as droogtes kom algemeen voor en is dit daarom noodsaaklik om na ons vleilande om te sien omdat dit oor die vermoë beskik om die hewigheid van vloede en droogtes deur die regulering van stroomvloei te verminder,” sê Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum.
“Meer as 50% van Suid-Afrika se vleilande is reeds vernietig of toon agteruitgang. Die mens is egter verantwoordelik om ons vleilande te bewaar en te verseker dat ons noodsaaklike ekostelsels optimaal funksioneer,” sluit Boshoff af.

SMS jou naam na 45354 (R1) om hierdie AfriForum-aksie te ondersteun.
 

Soortgelyke plasings