|

AfriForum maak strate skoon in Ottosdal as deel van #OnsDorp-projek

Die AfriForum-tak in Ottosdal het op 29 September die hoofstraat van dié dorp skoongemaak as deel van die burgerregteorganisasie se #OnsDorp-projek. Die doel van die projek is om vir plaaslike inwoners te wys dat AfriForum daar is om ’n verskil te maak en om inwoners te motiveer om meer selfdoenprojekte van stapel te stuur.

“Selfdoen is beter as niksdoen. As die munisipaliteit ons nie gaan help nie, sal ons self inspring en die werk doen,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Talle sake-eienaars het AfriForum bedank vir die skoonmaak van Voortrekkerstraat.

Die tak is tans opsoek na gemeenskapslede om betrokke te raak en deel van die oplossing te word. “Ons doen ’n beroep op die inwoners van Ottosdal om by die tak aan te sluit om sodoende ’n groter verskil te kan maak,” verduidelik Nieuwoudt.

Maak vandag nog ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap deur by jou plaaslike AfriForum-tak aan te sluit. SMS jou naam na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings