AfriForum maak stortingsterreinouditverslag bekend


AfriForum het vandag sy stortingsterreinouditverslag bekend gestel en aan die departement van omgewingsake in Pretoria oorhandig. Mamogala Musekene, direkteur vir geïntegreerde afvalbestuur en strategiese ondersteuning, het dié verslag ontvang namens Mark Gordon, adjunk-direkteur-generaal van chemiese stowwe en afvalbestuur.
Dít volg nadat die burgerregte-organisasie in Oktober vanjaar stortingsterreine geoudit het in gebiede waar AfriForum-takke bestaan en die resultate in ’n verslag opgeneem het.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (Wet No. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. AfriForum het hierdie vereistes in 33 vrae verwerk ten einde die minimum standaarde waaraan ’n vullisterrein moet voldoen, te bepaal. Dié vrae is gebruik om die vullisterreinoudit te doen.
Volgens Chris Boshoff, koördineerder vir omgewingsake by AfriForum, toon die resultate in die verslag dat slegs 22% (23 uit 105) van die vullisterreine wat geoudit is aan die wetlike minimum vereistes voldoen.

“By 78% van dié vullisterreine behoort daar spoedig ingegryp te word om gesondheidskwessies in omliggende gemeenskappe te verhoed.”

Boshoff lys die volgende kommerwekkende kwessies wat by verskeie stortingsterreine bestaan:

  • Geen toegangsbeheer of kennisgewings by die ingangshek wat aandui watter tipe afval daar gestort mag word nie;
  • Vullisterreine is nie omhein nie;
  • Infrastruktuur soos weegbrûe ontbreek en masjinerie is buite werking;
  • Onwettige mediese afval word by terreine gestort, met die gevolg dat ondergrondse water besoedel kan word;
  • Gesinne met kinders is woonagtig op sommige van die terreine;
  • ’n Afvalmoniteringskomitee wat deur munisipaliteite gefasiliteer moet word en waarvan die gemeenskap deel kan vorm, is op baie dorpe afwesig;
  • Vee wei op sommige terreine en vreet afval;
  • Dierkarkasse wat onwettig gestort is en nie bedek is soos die regulasie stipuleer nie, is ook op sommige terreine aangetref; en
  • Swak omgewingsrehabilitasie en vulliskompaksie vind op sommige terreine plaas, met die gevolg dat vullis rondwaai en omliggende omgewings besoedel.

Daar is egter ook positiewe aspekte wat in ag geneem moet word:

  • In 2016 het slegs 18% van vullisterreine wat geoudit is AfriForum se oudit geslaag. Dié syfer het in 2017 tot 22% gestyg;
  • Ná afloop van 2016 se vullisterreinouditverslag is ’n aantal vergaderings met die departement van omgewingsake se afvalbestuursafdeling belê. ’n Gunstige verhouding is met die departement gevestig. Mark Gordon het byvoorbeeld ’n skrywe aan AfriForum gerig waarin hy die provinsiale afvalbestuursbeamptes se kontakbesonderhede verskaf, sodat takke hulle by die oudit kan betrek;
  • Die Hatherley-vullisterrein in Mamelodi het verlede jaar slegs 36% ontvang. AfriForum het die departement van omgewingsake en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit aanbeveel om die herstel van hierdie terrein te prioritiseer. Ná vele vergaderings en gesprekke om die vullisterrein te rehabiliteer, het die vullisterrein 80% in vanjaar se oudit behaal;
  • Gautengse vullisterreine se gemiddeld het van 60% na 75% verbeter. ’n Verbetering is ook in die Vrystaat en Wes-Kaap gesien; en
  • AfriForum se Naboomspruit-tak was in ’n vullisterreinhofsaak betrokke wat op 9 Oktober 2017 aangehoor is. Uitspraak moet nog gelewer word, wat ’n presedent vir vullisterreinprobleme landwyd sal skep.

Boshoff sê voorts dat AfriForum, as deel van dié projek, oudits gedoen het op drie privaat beheerde stortingsterreine.

“Een van die terreine het 100% aan die regulasies voldoen, terwyl die tweede ’n persentasie van 99% behaal het en die derde 98%. Dít teenoor staatsbeheerde vullisterreine wat ’n gemiddeld van 44% tydens die oudit behaal het.”

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regering- en omgewingsake by AfriForum, is van mening dat die skokkende stand van staatsbeheerde vullisterreine in Suid-Afrika toegeskryf kan word aan swak bestuur, korrupsie en die gebrekkige opleiding van munisipale amptenare en werkers. “Vullisterreine kan goed bestuur word, mits die regering ’n wilsbesluit neem om die infrastruktuur volhoubaar in stand te hou vir herwinning en hergebruik.”
Só het die provinsies se vullisterreine gevaar:

Provinsie Aantal stortingsterreine geoudit Aantal stortingsterreine wat voldoen aan meer as 80% van die minimum vereistes Aantal stortingsterreine wat nie aan die minimum vereistes voldoen nie
Wes-Kaap 10 3 7
Noord-Kaap 10 1 9
Oos-Kaap 3 0 3
Vrystaat 14 1 13
Mpumalanga 17 0 17
Gauteng 22 13 9
Limpopo 9 3 6
KwaZulu-Natal 7 1 6
Noordwes 13 1 12
Nasionale totaal 105 23 82

 

“Waar vullisterreine nie aan die minimum vereistes voldoen nie het AfriForum reeds aanmaningsbriewe aan al die munisipaliteite gestuur én aangedring daarop dat die munisipaliteite hul aksieplanne om die vullisterreine weer op standaard te kry, bekend maak. Indien die munisipaliteite nie hieraan gehoor gee nie, sal AfriForum die gemeenskap bystaan om, waar moontlik, self die vullisterreine te rehabiliteer,” sê Pawson.

Sluit aan by dié inisiatief deur jou dorp se naam te SMS na 45354 (R1) om te help om jou omgewing skoon en netjies te hou.

Soortgelyke plasings