|

AfriForum maak reg vir regstappe teen Kovsies

Deur Jhua-Nine Wyrley-Birch

Die burgerregte-organisasie AfriForum berei tans voor op regstappe om Afrikaans as onderrigtaal aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te red nadat die senaat van dié universiteit pas ten gunste van ’n nuwe taalbeleid gestem het wat Afrikaans as onderrigtaal sal uitfaseer.

Dit volg na die raad van die UV in Desember 2015 die groen lig gegee het dat Engels die universiteit se primêre onderrigtaal en taal van administrasie word.

“Die senaat se besluit toon ’n gebrek aan leierskap en insig in die betekenis van taalregte soos in die Grondwet vervat. Dit blyk dat hulle eerder onder ideologiese druk swig as om standpunt in te neem om bewese beste praktyke soos meertaligheid en moedertaalonderrig te bevorder,” sê Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum.

Volgens Bailey het AfriForum op 26 Februarie en 4 Maart vanjaar die senaat en bestuur van die UV in regskrywes gewaarsku dat AfriForum tot regsaksie sal oorgaan om Afrikaanse studente se taalregte te beskerm indien daar met stappe voortgegaan sou word om Afrikaans as onderrigtaal aan dié universiteit uit te faseer.

“AfriForum voel sterk daaroor dat Afrikaanssprekende studente nie van hulle reg tot moedertaalonderrig ontneem mag word nie, en dat die universiteit eerder moeite moet doen om aan meer studente toegang tot moedertaalonderrig te bied. Afhangend van die besluit van die raad Vrydag sal ons tot regsaksie oorgaan om Afrikaans as onderrigtaal aan die UV te beskerm,” het Bailey gesê.

Op 24 Augustus 2015 het AfriForum, asook ander relevante rolspelers, as eksterne belanghebbendes die geleentheid gekry om ’n voorlegging te doen nadat die universiteit in Junie ’n mandaat aan die leierskap van die instelling gegee het om die taalbeleid te hersien.

“Ons het die hersiening van die beleid verwelkom, ongelukkig was hierdie proses by die UV reeds tot ʼn groot mate gekontamineer weens die feit dat die rektor (prof. Jonathan Jansen) in die openbare domein veralgemenings gemaak het oor studente se behoeftes en probleme met ʼn meertalige beleid, en meer spesifiek wat die gebruik van Afrikaans aanbetref.”

Na klagtes van studente oor probleme met klasse wat in 2016 skielik verengels het, het AfriForum en AfriForum Jeug op 26 Februarie die eerste keer ’n prokureursbrief aan die universiteit gestuur om te vra dat die studente se reg tot Afrikaanse moedertaalonderrig erken word.
ʼn Aanlyn-veldtog is ook op dieselfde dag van stapel gestuur vir ouers van studente aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die UV wat sterk standpunt teen die ontwrigting van die akademiese programme op die twee kampusse wou inneem.
Volgens Bailey is die onlangse geweld en aanslae op Afrikaans ’n politieke strategie, veral omdat vanjaar ’n verkiesingsjaar is. “Daar is min geloofwaardige beloftes wat politieke partye nog vir kiesers kan maak. Kulturele kwessies soos taal, plekname of standbeelde sal dus altyd in die spervuur wees omdat partye nie ’n langtermyn-strategie het nie.”
Sy meen taal is ’n maklike teiken omdat dit mense se identiteit raak en ’n emosioneel belaaide saak is. “Taal is ’n maklike politieke sneller wat getrek kan word om reaksie te ontlok en om in die media te kom.”
Volgens Marike van As, AfriForum Jeug se koördineerder vir die UV, het die burgerregte-organisasie se jeugtak voorspel dat vandalisme en betogings vanjaar op die Kovsie-kampus sou voorkom. Die universiteitsbestuur is daarteen gewaarsku.
“Die bestuur het dié waarskuwings in die wind geslaan en versuim om voorsorgmaatreëls te tref,” het van As gesê.
Nadat betogers die Universiteitsbeker-wedstryd tussen die Shimlas en Madibaz op Shimlapark op 22 Februarie ontwrig het en die standbeeld van CR Swart onder meer aan die brand gesteek en in ’n visdam gegooi is, het AfriForum Jeug onmiddellike optrede teen die betogers geeïs.
AfriForum-buurtwagte het op 23 Februarie sowat 80 studente van die kampus help ontruim nadat hulle deur betogers in verskeie koshuise vasgekeer is. Die manskoshuis, Vishuis, het groot skade gelei.
Bailey voorspel nog soortgelyke probleme op kampusse vanjaar. “Die wisselende eise van studente, wat inkontraktering, behuising, studiegelde en taalbeleide insluit, gee net aanleiding tot verdere onbepaalde probleme.”
Sy meen dat universiteitsbesture nie probleme sal oplos deur toe te gee aan alle eise wat studente stel nie.
Die senaat van UV se aanbeveling rondom taal, sal Vrydag vir finale goedkeuring aan die universiteitsraad voorgelê word.

Soortgelyke plasings