|

AfriForum maak geskiedenis met nasionale massa-patrollie

Misdadigers regoor die land gaan vanaand die wind van voor kry wanneer AfriForum se nasionale massa-patrollie afskop om gemeenskappe veiliger te maak.

Van Mooinooi  in Noordwes tot Mosselbaai in die Suid-Kaap, van Frankfort in die Vrystaat tot Standerton in Mpumalanga, gaan AfriForum-takke se buurtwagte in samewerking met ander veiligheidsrolspelers wys hoe gemeenskappe hulself in ’n misdaadgeteisterde land beter kan beveilig, sê Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

Meer as 100 buurtwagte, gemeenskap-polisiëringsforums (GPF’s) en veiligheidstrukture en meer as 3 000 mense gaan aan hierdie indrukwekkend projek deelneem.

Cameron sê deur maksimale sigbaarheid kan groter gebiede beveilig en gestabiliseer word. Dit is pro-aktiewe misdaadbekamping.

Volgens hom is die patrollie ’n eenvoudige, sigbare polisiëringsoefening. “Alle verdagte bewegings, persone en voertuie moet aan die plaaslike beheerkamer van die tak gekommunikeer word. As daar nie so ’n beheerkamer is nie, sal dit vir die doel van die patrollie opgestel word. Van die plaaslike beheerkamer sal al die inligting na die nasionale beheerkamer in Centurion deurgegee word.”

Cameron het gesê die plaaslike SAPD kan betrek word om te help met arrestasies en deursoekings. Waar moontlik moet reserviste ook gebruik word. Plaaslike sekuriteitsmaatskappye sal ook genader word om deel van die projek te wees. Waar daar nie ’n AfriForum-buurtwag in ’n gebied is nie, sal takke hul plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) of ander veiligheidstrukture nader om by die projek betrokke te raak.

 

Na afloop van die patrollie sal statistieke ontleed en bekend gemaak word. “Die oefening gaan nie net oor arrestasies op die dag nie, maar om slegte elemente uit die gemeenskappe te verwyder en misdaad te bekamp.

“Gemeenskappe moet self verantwoordelikheid vir hul veiligheid neem en letterlik hul strate uit die hande van kriminele terugvat,” meen Cameron.

Die nasionale patrollie is net die begin en soortgelyke oefeninge word reeds vir volgende jaar in die vooruitsig gestel.

Die patrollie is deel van AfriForum se veldtog met die tema: 10 Dae van Selfstandigheid. Dit word van 28 September tot 9 Oktober aangebied en behels tientalle selfdoen-projekte deur AfriForum-takke. Die veldtog is in aanloop tot die Toekomsberaad van die Solidariteit Beweging wat op 10 Oktober in Pretoria gehou word en waar ’n groot selfdoen-strategie aangekondig sal word. Om te registreer gaan na www.toekomsberaad.co.za

 

 

Soortgelyke plasings