|

AfriForum maak blou-en-groendruppelverslag bekend

AfriForum het vanjaar as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek die water (bloudruppel) in 206 dorpe en die riool (groendruppel) van 124 rioolsuiweringsaanlegte getoets. Die resultate van dié verslag toon dat sommige munisipaliteite steeds artikel 24 van die Grondwet – wat ’n gesonde omgewing vir Suid-Afrikaners verseker – verontagsaam.

Luidens die verslag voldoen vier dorpe (Brits, Delareyville, Sannieshof en Stella) se drinkwater en 65 rioolstelsels nie aan die nasionale standaarde nie. Nadat AfriForum hierdie vier dorpe se munisipaliteite daarvan in kennis gestel het, het opvolgwatertoetse daarop gedui dat die water weer geskik is vir menslike gebruik. Dit is ’n merkbare aanduiding van die regering en munisipale amptenare se swak dienslewering, veral met betrekking tot rioolaanlegte.

Die betrokke dorpe se gemeenskappe is by die toetse betrek en lede van die gemeenskap het opleiding ontvang om die toetse uit te voer. AfriForum het ook die nodige toerusting om die toetse te doen aan elke AfriForum-tak verskaf.

“Gemeenskappe moet aandring op hul reg op toegang tot skoon, lopende water en voortaan die onderskeie munisipaliteite tot verantwoording roep deur die gehalte van drink- en rioolwater gereeld te moniteer. Die blou-en-groendruppeluitslae is kommerwekkend – veral ten opsigte van swak rioolbestuur – en dit dui op die verdere verval van Suid-Afrika se infrastruktuur. ’n Tekort aan bekwame personeel om dié infrastruktuur te bestuur en die gebrekkige instandhouding van aanlegte is ook kommerwekkend,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van omgewingsake.

Altesaam 65 van 124 rioolsuiweringsaanlegte wat in 2019 getoets is, voldoen nie aan die gestelde standaarde nie en daar is steeds ’n probleem met die bestuur van rioolsuiweringsaanlegte. “Dit is ’n groot bron tot kommer dat soveel aanlegte riool in ons riviere stort. Dit gaan noodsaaklik wees vir die toekoms dat kundiges vrywillig betrokke raak en self die infrastruktuurkwessies oplos om waterbesoedeling hok te slaan.

“Die regering is nie ernstig oor die gesondheid van Suid-Afrikaners nie. Dit is duidelik te bespeur uit die feit dat die departement van water en sanitasie (DWS) bankrot is en ’n parlementêre ondersoek in die gesig staar oor wanbestuur. Die laaste amptelike Blou- en Groendruppelverslag is in 2014 gepubliseer. Die ANC-regering probeer sy onbevoegdheid wegsteek deur inligting van die publiek en selfs die parlement te weerhou terwyl gewone mense daagliks onder dié waterkrisis gebuk gaan. Ons kan nie langer op die staat vertrou om veilige water te verskaf nie en daarom toets ons self die watergehalte,” sê De Klerk.

As die bewaarder van water kom die DWS nie sy verpligtinge na deur wetgewing toe te pas wanneer munisipale owerhede die skuldige party is nie.

Is jóú dorp se water skoon? SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1) en gee AfriForum die mandaat om die watergehalte van jou dorp te toets.

’n Volledige lys van dorpe wat tydens die blou-en-groendruppelprojek getoets is, is in die amptelike verslag beskikbaar. Klik hier: AfriForum Blou-en-groendruppelverslag

Soortgelyke plasings