AfriForum maak begraafplaas in Naboomspruit skoon


AfriForum se Naboomspruit-tak het verlede week die begraafplaas in Naboomspruit opgeknap en weer toeganklik gemaak vir mense om hul geliefdes wat daar begrawe is, te besoek. Dié aksie volg nadat AfriForum klagtes van gemeenskapslede ontvang het dat die begraafplaas in ’n haglike toestand is. 
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dat die Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit weereens hul pligte versuim het om basiese dienste soos die instandhouding van begraafplase te lewer.

“Dit is tragies dat só ’n eenvoudige taak nie aan die munisipaliteit toevertrou kan word nie. Hulle vorder graag belastinggeld in, maar die werk word nooit gedoen nie.”

Volgens Phillip van Staden, AfriForum se Naboomspruit-takvoorsitter, was die begraafplaas oorgroei met bosse en onkruid.

“Die begraafplaas behoort ’n plek te wees waar mens respek aan jou oorlede geliefdes kan betoon en moenie só lyk nie. Daarom het ons tak besluit om in te gryp en die begraafplaas self op te knap.”

Grobbelaar sê ook dat AfriForum sal aanhou om aksies soos hierdie aan te pak om te verhoed dat dorpe ten gronde gaan. “Ons kan nie bloot terugsit en toekyk hoe die dinge wat vir ons belangrik is as gevolg van wanbestuur ten gronde gaan nie.”

Soortgelyke plasings