AfriForum loods veldtog teen Discovery-rassisme


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n veldtog van stapel gestuur om die publiek teen die voorgenome rassediskriminasie van die nuwe Discovery Bank-afdeling in te lig. Die webblad www.stoprassisme.co.za is vir hierdie doel beskikbaar gestel sodat die publiek hul steun toe te voeg tot die dispuut wat AfriForum met Discovery verklaar het.
Dit volg nadat Discovery aangekondig het dat hulle nuwe inisiatief, Discovery Bank, op ’n rassegrondslag teen minderhede sal diskrimineer deurdat uitsluitlik swart deponeerders ’n 10%-aandeel in dié maatskappy sal ontvang.
In reaksie hierop het AfriForum ’n vierpuntplan aangekondig en die organisasie se lede en ondersteuners aangemoedig om daaraan deel te neem. Die plan is as volg:

  1. Kontak Discovery per e-pos, telefonies of op sosiale media om jou skok oor en teleurstelling in hul rassistiese optrede op skrif te plaas. Lewer ’n pleidooi vir gelyke behandeling.
  2. As jy reeds jou sake met Discovery gestaak het, maak seker dat hulle daarvan bewus is dat jou grief teen hul optrede die rede daarvoor is.
  3. As jy nog nie jou sake met Discovery gestaak het nie, maak seker dat jou stem as ontevrede kliënt gehoor word.
  4. Besoek die webblad www.stoprassisme.co.za en verklaar jou ondersteuning vir die dispuut met Discovery. Sodoende maak jy ons stem sterker om hierdie saak met Discovery op te neem en kan ons jou op hoogte hou van verwikkelinge in hierdie verband.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, sê dat Discovery se optrede ’n blatante vorm van rassediskriminasie is. “Dit is een ding om jou met opheffingsprojekte te bemoei, om beurse aan arm kinders toe te ken of om onderwysinstellings te help finansier. Om ’n groep middelklaspersone op ’n uitsluitlike rassegrondslag te help om welvaart te versamel, is egter iets heeltemal anders,” sê Roets.
“Dit is die jaar 2018. Met Discovery se optrede koop hulle onbeskaamd op die ANC se rasbeheptheid in. Dit is nie bloot rasbeheptheid nie – dit is ’n onvolhoubare rasbeheptheid wat minderhede tot tweedeklasburgers en tweedeklaskliënte reduseer, maar wat terselfdertyd niks doen om die werklike krisisse in hierdie land op te los nie,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings