Spyskaart +

Afriforum Loods Teenboelieveldtog – Ons Wil Graag Jou Storie Hoor!

Julie 6, 2017 deur Admin

 

Die burgerregte-organisasie AfriForum loods hierdie jaar hulle teenboelieveldtog wat dien as bewusmaking van afknouery in skole. Kinders moet hulle stem laat hoor en hulle storie vertel, want ons kinders is die leiers van die toekoms. Daarom is dit belangrik vir AfriForum, AfriForum Navorsingsinstituut (ANI) en AfriForum Trauma om saam met ons land se skole, asook die ouers hande te vat om ’n verskil te maak in die wêreld daarbuite.

Navorsing toon dat kinders al reeds van die ouderdom, so vroeg soos drie-jaar oud al daartoe in staat is om ander te boelie. Ouers en onderwysers kan die boelie identifiseer deur op te let na die kind se gedrag:

  • Die kind sal skree “Myne!!”, terwyl hy ʼn speelding gryp. Hierdie is nie noodwendig boeliegedrag nie, maar as ouers en onderwysers dit toelaat om oor en oor te gebeur sonder om in te gryp kan dit lei tot verbale en fisiese vorms van boelie.
  • Jong kinders hou ook daarvan om geheime vir mekaar te fluister, asook om mekaar snaakse name te noem, maar wanneer die gefluister besig is om skinderstories te verprei en wanneer snaakse name begin lelik raak, kan hierdie gedrag gesien word as die van boelie.
  • Wanneer kinders “speel-speel” speletjies speel gee dit soms vir sekere kinders die geleentheid om ander kinders te manipuleer deur mag oor hulle uit te oefen. Kinders wat speel-speel die ma, pa, baba, skelm, of hond vertolk word nie noodwendig as boelie gesien nie, maar wanneer kinders op ’n konstante basis iemand dwing om ’n sekere “minderwaardigheidsrol” in die speletjie te vertolk (soos bv. Die baba, hond, of skelm) en selfs daardie kind se aksies beheer (soos bv. Om die kind te dwing om te blaf, om te huil, of om tronk toe te gaan) gebruik hulle op ’n aanhoudende basis hulle mag om “baas” oor daardie meer kwesbare kind te speel en dit kan gesien word as boelie.
  • Kinders wat sê, “Jy mag nie met ons speel nie”, doen dit dalk nog nie bewustelik nie, maar dit kan maklik in emosionele boelie ontaard.

AfriForum gaan reeds einde Julie 2017 begin om hulle teenboelie-week by laerskole, asook kleuterskole van betrokke laerskole aan te bied. Die kenteken van hierdie veldtog se naam is Matteus en die slagspreuk: “Behandel ander soos jy graag behandel wil word”. Die doel van hierdie week is om aan leerders, skole en ouers met die regte gereedskap toe te rus, soos om meer inligting te gee oor wat die term, “boelie” werklik beteken, omdat daar baie verwarring kan ontstaan daaroor. Dit sal ook kinders help om te verstaan wie hulle as ’n individu in die samelewing is en hoe elkeen verskillend en uniek teenoor hulle maatjies is. Daar gaan ook met kinders gepraat word oor konflikhantering, wat gesien kan word as ’n handige tegniek om aan te leer van ’n vroeë ouderdom af, omdat ’n mens dit saam met jou kan vat in die grootmenswêreld.

Ander aspekte waaraan AfriForum gaan raak tydens die teenboelieweek is om ’n werkswinkel vir onderwysers aan te bied een middag na skool, asook om een aand ’n praatjie aan ouers te lewer. Die praatjie aan die ouers sal gelei word deur die bekende akteur, Jacques Gombault, waar hy ook een van sy kortfilms, Lang Gras aan die ouers sal wys om sy boodskap nóg sterker deur te bring. Dit is belangrik vir skole, om as leerders, onderwysers en ouers saam te staan teen die lelike boeliebeweging wat tans die hele wêreld skud – so word gedeelde leierskap gevorm om ’n verskil te maak.

Slagoffers, sowel as die boelie self moet gehelp word. As ons dit van ’n jong ouderdom af kan stop, dat kinders bewus is van wat reg is en wat verkeerd is, slaag ons in ons taak. Ons wil nie van die kinders toekomstige kriminele maak nie, maar toekomstige leiers wat sal opstaan vir wat reg is en om so ’n verskil te gaan maak. Soos die gesegde sê: buig die boompie terwyl hy klein is.

Een van die stories wat aan ANI gestuur is, is geskryf deur ʼn 12 jarige meisie, Jani. Sy is tans in Graad 12 en speel tjello en klavier, en doen ook drama en Iersedans. Haar ma het hierdie brief in haar tas gekry, “dit het my soos ’n vuishou in die maag getref!” Jani hoop dat haar woorde ander mense se harte kan raak:

Soms moet jy wegvlieg – Jani van der Watt (12)

Ek staan hier tussen die ander. Ek sê “ja” vir alles wat hulle te sê het. My groen stert hang rusteloos agter my, my vlerke is toegevou. Ek loop maar agter hulle aan; wil regtig inpas. Hulle kyk na my met hulle oë van vuur, ek glimlag net benoud.

Skielik trap een op my stert, ’n ander ruk aan my vlerk. Die res giggel sieklik. Ek het dit verloor! Ek brul en maak my vlerke wyd oop om hulle bang te maak, maar dit laat hulle net meer lag! Nou is die duiwel los. Almal spring op my en skop my, trane loop by my groen wange af.

Ek skud hulle van my af en klap my vlerke. Op, op, op vlieg ek. Weg van hulle wat my haat. Dit wat vandag by die skool gebeur het, gaan vir altyd in my kop vassit.

Ek vlieg na my nes toe met my hart wat laag hang. Nee wat, ek sal tog nooit inpas nie.

’n Jaar later sit ek nog steeds hier en dink oor daardie dag.

Ons wil graag jou storie hoor. Stuur vir ons ʼn e-pos en raak deel van die bewusmakingsbeweging: boelie@afriforum.co.za