|

AfriForum loods petisie ná Eskom dreig om krag in Matlosana-munisipaliteit te sny

AfriForum se Klerksdorp- en Stilfontein-tak het ’n petisie opgestel nadat Eskom gedreig het om dié dorpe en die omliggende gebiede se elektrisiteit vanaf 14 Augustus 2020 te sny weens die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se skuld. Die munisipaliteit skuld ongeveer R538 miljoen aan Eskom en die organisasie hoop die petisie sal help om te verhoed dat die elektrisiteitstoevoer afgesny word. Daar word beoog om die elektrisiteitstoevoer na Klerksdorp, Stilfontein, Orkney, Hartbeesfontein en Jouberton te staak.

Die organisasie het reeds skrywes aan sowel Maitu Kgaile, burgemeester van die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit, as Eskom gerig, waarin daar versoek word dat die elektrisiteitsvoorsiening nie opgeskort moet word nie.

“Die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit bewys voortdurend hulle is nie bevoeg om finansiële bronne te bestuur nie. Inwoners van die area betaal pligsgetrou hul elektrisiteitsrekening aan die munisipaliteit, maar die munisipaliteit versuim om hul rekening by Eskom te betaal. Die onbevoegde en onkundige munisipale bestuur het veroorsaak dat die munisipaliteit ’n reusebedrag aan Eskom skuld,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Volgens die bestuur van die twee takke is dit veral kommerwekkend dat gemeenskappe tydens die COVID-19-pandemie ook nog bekommerd moet wees oor basiese dienste soos water- en elektrisiteitsvoorsiening. Daar is reeds baie sakeondernemings en myne wat hulle deure heeltemal of deels moes sluit en hierdie erge kragonderbrekings sal beslis nie bydra tot die welsyn van dié dorpe en hulle inwoners nie.

AfriForum sal alles moontlik doen om te verseker dat die dorpe se ligte aanbly. Jy kan help deur die petisie te onderteken. Lede van die publiek het tot 20 Julie 2020 om die petisie te onderteken.

Soortgelyke plasings