|

AfriForum loods nasionale begraafplaas-skoonmaakaksie

Talle mense moet jaarliks toekyk hoe hul geliefdes se grafstene geplunder word of onder bossies toegroei in begraafplase landwyd.

Luidens mediaberigte word tientalle grafstene ook jaarliks gesteel en die waardevolle marmer of graniet verkoop of selfs vir kombuistoonbanke gebruik.

Die burgerregte-organisasie AfriForum beywer hom reeds die afgelope paar jaar vir die skoonmaak en instandhouding van begraafplase landwyd en in die lig daarvan is die organisasie se Rus in Vrede- veldtog van stapel gestuur waartydens begraafplase nasionaal ondersoek en opgeknap sal word.

As deel van dié veldtog het die burgerregte-organisasie vandeesweek ondersoek ingestel na die toestand van die Brakpan-begraafplaas. Dit is soos talle ander in ’n haglike toestand.

Volgens Wico Swanepoel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng, word geen instandhoudingswerk by dié begraafplaas gedoen nie. “Gebrande bloekombome het op ʼn hele paar grafte geval en die grafstene beskadig. Daar is nie behoorlike veiligheidsmaatreëls in plek nie en booswigte kan maklik toegang tot die begraafplaas kry wat vandalisme moontlik maak.”

Die burgerregte-organisasie het ook ’n skrywe aan die Ekurhuleni-munisipaliteit gerig en versoek dat dié gronde dringend skoongemaak word.

Volgens Swanepoel het munisipaliteite ʼn grondwetlike plig om begraafplase skoon te maak en te onderhou. “Die munisipaliteit se versuim om hierdie verpligting na te kom, getuig van die vlak van wanbestuur en ook hul ongeërgde houding jeens die gemeenskap.”

 

Soortgelyke plasings