--> -->
Spyskaart +

AfriForum loods eie Blou- en Groendruppelveldtog

Mei 30, 2013 deur Julius Kleynhans

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy 110 takke landwyd versoek om aan ʼn nasionale watermoniteringsveldtog deel te neem. Dit staan bekend as die AfriForum Blou- en Groendruppel-takprojek.

“AfriForum sal water help bewaar om die volhoubaarheid van hierdie kritieke hulpbron te verseker,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum gesê.

AfriForum het alle takke van ʼn volledige toetsstel en ʼn handleiding vir die neem van watermonsters in hulle onderskeie omgewings voorsien. Plaaslike gesagsliggame en die media sal uitgenooi word om die toetsspanne te vergesel ten einde die geldigheid van die uitslae te verseker.

“Die krisis wat Suid-Afrika in die gesig staar as gevolg van onvoldoende watervoorsiening, die groeiende vraag daarna en besoedeling, het ons genoop om in te tree en te verseker dat ons waterbronne beskerm word. Wanbestuur sal nie langer toegelaat word nie,” het Kleynhans bygevoeg.

AfriForum sal drink- en afvalwatergehalte in al nege provinsies waar daar takke is, toets. Die watermonsters sal deur onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratoriums getoets word en al die uitslae sal deur die loop van die jaar bekend gemaak word.

Om by jou AfriForum-tak aan te sluit, SMS jou dorp se naam na 31336. 50c/SMS.