AfriForum lewer voorlegging aan departement oor stortingsterreine


AfriForum het ’n voorlegging aan die departement van omgewingsake se provinsiale lisensiëringstaakspanne gedoen ten einde die toestand van Suid-Afrika se stortingsterreine te verbeter.
Dít volg nadat die burgerregte-organisasie in September 2016 ’n verslag oor die toestand van stortingsterreine aan Edna Molewa, minister van omgewingsake, oorhandig het. AfriForum het intussen twee opvolgvergaderings met die departement se afvalsbestuurspan gehad, waartydens goeie bande gebou is.

“Die departement het AfriForum in 2016 versoek om ’n verslag van die toestand van stortingsterreine in Suid-Afrika op te stel om die rehabilitasieproses te begin. AfriForum gaan ook die ouditvraelys oor stortingsterrein vir 2017 saam met die departement hersien en is uitgenooi om oor twee weke ’n oudit van stortingsterreine saam met die departement in Groblersdal te doen,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

Die departement het versoek dat AfriForum elf prioriteitstortingsterreine (ten minste een uit elke provinsie) identifiseer en ’n voorlegging oor dié spesifieke stortingsterreine doen.

“Ons gaan poog om ’n verhouding met die departement te bou wat tot voordeel van ons lede en die breë publiek sal wees. Daar is baie omgewingsprobleme – waarvan stortingsterreine slegs een is – wat ons omgewing besoedel en mense se gesondheid benadeel,” sê Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslikeregering- en omgewingsake.

AfriForum moedig takke aan om deel te vorm van munisipale forums wat onder meer afvalbestuur hanteer om direkte insette in hierdie verband te lewer.

Soortgelyke plasings