AfriForum lewer kommentaar op beoogde wysigings aan PSiRA-regulasies


Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 28 Junie 2019 kommentaar ingedien teen die konsepwysigings aan die Wet op die Regulering van die Privaat sekuriteitsbedryf, 2001 (wet no. 56 van 2001), wat op 31 Mei 2019 in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die beoogde wysigings hou verreikende gevolge vir die sekuriteitsbedryf in en beperk onder meer die klas vuurwapens wat aan sekuriteitswagte in die uitvoer van hul dienste uitgereik mag word. Semi-outomatiese vuurwapens mag ingevolge die konsepwysigings slegs in die geval van transitodienste uitgereik word. AfriForum stem met die meerderheid sekuriteitsmaatskappye saam dat dié bedryf in so ’n geval nie sekuriteitsdienste na behore kan lewer as misdadigers met outomatiese en semi-outomatiese aanvalsgewere gewapen is nie.
Sekuriteitsmaatskappye het op 18 Junie 2019 ’n vergadering by die Burgerspark Hotel in Pretoria bygewoon om hul insette aan die reguleringsgesag vir die privaat sekuriteitsbedryf (PSiRA) oor die voorgestelde wysigingsontwerp te gee. Verteenwoordigers wat die vergadering bygewoon het, onder andere dié van AfriForum, het hulle misnoeë te kenne gegee; hulle het veral daarop klem gelê dat sekuriteitsmaatskappye nie na behore geraadpleeg is of die geleentheid gebied is om insette te gee voordat die konsepwysigings opgestel en gepubliseer is nie.

“Weens die SAPD en SANW se nalatigheid beland talle outomatiese en semi-outomatiese vuurwapens in die hande van boosdoeners. Dit is verregaande en absurd om sekuriteitsmaatskappye nou van hul bevoegdhede te ontneem en tot die gebruik van semi-outomatiese vuurwapens tydens die uitvoer van sekere dienste te beperk. Hoe op aarde is sekuriteitswagte, wat meestal vóór die SAPD by misdaadtonele opdaag, veronderstel om kliënte en die publiek te beskerm teen aanvallers wat baie swaarder gewapen is?” vra Marnus Kamfer, AfriForum se regs- en risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke plasings