|

AfriForum-lede in Wes-Kaap wil korrupsie aktief uitroei

Deur Alet Rademeyer

AfriForum se Knak Korrupsie-veldtog in die Wes-Kaap was gisteraand ’n reusesukses met byna 200 mense wat die opleidingsessie in Bellville bygewoon het.

Te oordeel aan die goeie opkoms, is dit duidelik dat die publiek moeg is vir korrupsie en die verkwisting van hul belastinggeld.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die groot opkoms en aktiewe deelname gee ’n mens beslis hoop vir die stryd teen korrupsie in die Kaapstad-omgewing.

Wico Swanepoel, AfriForum se regsadviseur vir plaaslike korrupsie, meen die opleiding was ’n reusesukses. “Dit is regtig verblydend om te sien dat daar soveel mense is wat bereid is om standpunt teen korrupsie in te neem. Ons is ook bly dat ons mense kan bemagtig en glo dat met die inligting tot hul beskikking die geveg teen korrupsie in die nabye toekoms vrugte sal afwerp.”

Johan Spamer, wat die byeenkoms bygewoon het, sê hy het werklik baie uit Nel se voorlegging geleer en hy sien uit om die inligting met ander mense te deel.

Tommy van Zyl, AfriForum se voorsitter van Kaapstad-Noord, sê as sakeman het hy baie geleer en hy gaan ook die belangrike sakebeginsels in sy onderneming begin toepas.

Die Knak Korrupsie-veldtog het ten doel om mense op plaaslike regeringsvlak in te lig en bewus te maak hoe hulle ’n rol kan speel om korrupsie uit te roei. Die opleidingsessies is ook in Nylstroom, Bethlehem, Kuruman en Potchefstroom aangebied.

Soortgelyke plasings