AfriForum lê strafregtelike klagtes teen munisipale bestuurder


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op Woensdag 7 November 2018 strafregtelike klagtes teen Dithabe Nkoane, munisipale bestuurder van die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit in die Vaaldriehoek, gelê. Dié klagtes staan die swak munisipale bestuur en besoedeling van waterbronne teë.

Ná verskeie klagtes van die gemeenskap ontvang is oor riool wat in die strate afspoel, mangate wat oorvloei en bloederige water wat by die abattoir in die strate, vleilande en strome invloei, het AfriForum besluit om betrokke te raak. Die klag is ingevolge Artikel 151 van die Nasionale Waterwet, 1998 (Wetno. 36 van 1998) gemaak, wat staaf dat enige persoon wat opsetlik water en waterbronne besoedel daarvoor aanspreeklik gehou moet word.

Artikel 24(a) van die Grondwet noem dat almal geregtig is op ’n omgewing wat hul gesondheid en welstand in ag neem en dat die omgewing ook vir toekomstige generasies beskerm moet word. Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir Gauteng-Suid, is dit egter nie die geval in die Vaaldriehoek nie. “Mangate oorstroom en riool spoel in die strate af, wat beteken dat mense daardeur moet beweeg. Boonop word die Vaalrivier daagliks met megaliters onbehandelde riool besoedel. Dit is direk met Artikel 24(a) van die Grondwet teenstrydig,” sê Ungerer.
Ungerer voeg by dat swak munisipale bestuur en instandhouding die besoedeling veroorsaak en dat die skuldige partye daarvoor aanspreeklik gehou moet word. “Die munisipaliteit is veronderstel om ons belastinggeld aan te wend om die rioolwerke in stand te hou, op te gradeer waar nodig en te verseker dat onbehandelde riool nie die omgewing besoedel nie. Fondse moet aangewend word om voorvalle soos dié te verhoed. Die munisipaliteit versuim om hul daadwerklike pligte na te kom en daarom is dit ons verantwoordelikheid as gemeenskap om hulle tot verantwoording te roep,” sluit Ungerer af.

AfriForum sal die saak by die Suid-Afrikaanse Polisiediens opvolg om te verseker dat die probleem reggestel word.

Soortgelyke plasings