|

AfriForum lê strafregtelike klagtes teen Fikile Mbalula na luukse “befondsde” Dubai-vakansie

AfriForum het vandag strafregtelike klagtes van geldwassery en korrupsie teen voormalige sportminister Fikilie Mbalula by die Brooklyn-polisiestasie ingedien.

Dit volg nadat Sedgars Sport, ’n sportprodukteverskaffer, na bewering in 2017 tussen R300 000 en R680 000 vir die Mbalula-gesin se reis na Dubai opgedok het. Dit was op ’n tydstip toe dié maatskappy al meer as ’n dekade sake gedoen het met die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok).

Sedgars, ’n sustersmaatskappy van Sedtrade, wat bande het met die voormalige Vrystaatse premier Ace Magashule, het na bewering dié geld deur ’n klaarblyklike onaktiewe maatskappy, Reimon Uniforms, gekanaliseer.

AfriForum, sowel die DA, het reeds in 2017 ʼn versoek aan die Openbare Beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, gerig om dié reis te ondersoek.

Mkhwebane het in Desember 2018 bevind dat Mbalula die etiese kode van die uitvoerende gesag oortree het toe hy die betaling van Sedgars aanvaar het. Dié kode lui onder meer dat ’n minister nie ’n geskenk of voordeel kan aanvra of aanvaar wat ’n poging kan wees om die lid in die uitvoer van sy pligte te beïnvloed nie.

Die OB het bevind dat Mbalula Dubai toe is sonder om vir die reis te betaal en het skynbaar geen idee gehad van hoeveel dit sou kos nie. Die OB het verder bevind dat nóg Mbalula nóg sy kantoor die reëlings vir die reis behartig het.

Mbalula het maande na die reis nog nie daarvoor betaal nie en toe skuldeisers begin klop, het hy sy vriend Yusuf Dockrat, die direkteur van Sedgars Sport, gekontak vir ’n leningsooreenkoms van R684 000 om vir die reis te help betaal. Volgens die OB was dit “onvanpas” dat Mbalula ’n leningsooreenkoms met Dockrat gesluit het, omdat hy ’n direkteur is van ’n entiteit wat besigheid met Sascok doen.

Mkhwebane het verder die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) beveel om ondersoek in te stel om te bepaal of die fondse wat gebruik is om vir die reis te betaal die opbrengs van geldwassery is, al dan nie. Die NVG het egter volgens AfriForum nog geen stappe teen Mbalula gedoen nie.

“Die NVG se versuim om Mbalula op die OB se aanbeveling te vervolg, het AfriForum genoop om hierdie klagtes in te dien. Die minister het na alle aanduidings met ‘vuil geld’ gaan vakansie hou en onregverdige voordeel getrek uit sy verhouding met Sedgars; hy moet daarvoor verantwoording doen,” sê Monique Taute, hoof van AfriForum se teenkorrupsie-eenheid.

“Geen politikus kan as bo die reg verhewe gesien word nie en daarom is AfriForum se teenkorrupsie-eenheid van mening dat dit in openbare belang sowel as in die belang van geregtigheid is dat die NVG hom sonder vrees, guns of vooroordeel vervolg.”

Soortgelyke plasings