AfriForum lê strafregtelike klagte teen Vrystaatse departement van menslike nedersettings


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag ’n strafregtelike klagte teen amptenare, sowel as kontrakteurs en verskaffers van die Vrystaatse departement van menslike nedersettings by die Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein aanhangig gemaak.
Dié stap volg nadat dit in Januarie 2017 in ’n nasionale koerant aan die lig gekom het dat R400 miljoen, wat vir laekostebehuising geoormerk was, onregmatig aan kontrakteurs uitbetaal is in die 2010/2011 finansiële jaar. Twee van die bevoordeelde kontrakteurs en verskaffers is onder andere Hlaudi Motsoeneng en Nozuko Mbalula, Fikile Mbalula (die minister van sport en ontspanning) se vrou.

“R1,3 miljard is deur die nasionale tesourie vir laekostebehuising en die oprigting van 21 000 HOP-huise beskikbaar gestel. Hofstukke dui daarop dat daar tot op hede nie ’n enkele huis gebou is nie,” sê Pieter Myburg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

Marcus Pawson, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, meen dat die burgerregtewaghond gereeld inligting van korrupte handelinge binne munisipaliteite en provinsies ontvang. “Hierdie is egter die enkele grootste klagte waarmee AfriForum tot op hede gekonfronteer is.”

“Ons gaan nie langer toelaat dat staatsamptenare met bedrog wegkom nie. Diegene wat geld van belastingbetalers steel en armes dakloos laat, kan nie skotvry daarvan afkom nie,” sluit Myburg af.

Soortgelyke plasings