AfriForum lê strafregtelike klag teen Gautengse departement van gesondheid en medepligtiges


Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag ’n strafregtelike klag by die Johannesburg Sentraal-polisiestasie ingedien om ondersoek in te stel na ’n beweerde onregmatige tender van R24 miljoen wat deur die Gautengse departement van gesondheid toegeken is.
Dié tender, wat toegeken is sonder dat die aanvaarde tenderprosedures gevolg is, behels die verskaffing van gespesialiseerde mediese toerusting aan die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria.

“Slegs twee maatskappye in Suid-Afrika kan dié toerusting verskaf en albei het ’n tender ingedien; een vir R12 miljoen en die ander vir R24 miljoen. AfriForum het egter dokumente van ’n fluitjieblaser ontvang met bewyse dat die tenderevalueringskomitee die goedkoper tender onregmatig afgewys het – selfs al het dit aan al die nodige vereistes voldoen,” sê Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake.

Die departement van gesondheid se tenderevalueringskomitee het die goedkoper tenderaar bloot afgewys sonder om die tenderdokument se aanhangsels in ag te neem. Die klagtes sluit ook bewyse in van die uitbetaling van onreëlmatige fakture teen bedrae wat veel hoër is as die ooreenstemmende dienste wat gelewer is.
Daar is ook skriftelike bywyse dat ’n agent vooraf aangestel en betaal is om vergaderings tussen die duurder tenderaar en die departement te reël. Suid-Afrikaanse wetgewing verbied die gebruik van agente binne enige tenderprosesse. Dié misdrywe moet dus deur die owerhede ondersoek word.

“Fondse wat deur dié departement bestee word, moet aangewend word om mense in hospitale, klinieke en ander versorgingsinstellings te help en versorg, en om hul personeel daartoe in staat te stel – beslis nie om hooggeplaastes se sakke vol te stop nie,” sê Mostert.

Omdat die maatskappy van die duurder tenderaar internasionale voetspore het, gaan AfriForum ook klagtes by die departement van justisie in die VSA indien ingevolge dié land se Foreign Corrupt Practices Act (FCPA), asook by die Britse polisiediens Scotland Yard, ingevolge die Verenigde Koninkryk se Bribery Act van 2010.
Die FCPA maak dit onwettig vir maatskappye met ’n verbintenis aan die VSA om buitelandse amptenare met persoonlike betalings of belonings te beïnvloed. Terselfdertyd word die Britse Bribery Act van 2010 beskryf as een van die strengste teenkorrupsiewetgewings ter wêreld: Persone wat dit oortree, kan tot tien jaar tronkstraf opgelê word of onbeperkte boetes kry. Die wetgewing het verder byna universele jurisdiksie; die vervolging van enige persoon of maatskappy wat met die Verenigde Koninkryk verbind word, word dus hierdeur moontlik gemaak.

“Ons hoop dat die skuldige partye aan die pen sal ry en geregtigheid sal seëvier. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om toe te sien dat belastingbetalergeld verantwoordelik en regmatig aangewend word, en dat moontlike strafregtelike aktiwiteite onder die loep geneem word. AfriForum doen ’n beroep op fluitjieblasers om na vore te kom om korrupsie te help ontbloot,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng.

Soortgelyke plasings