AfriForum lê klagtes van munisipale korrupsie by Valke


Die AfriForum-tak in Utrecht het op 18 Augustus 2017 elf klagtes van korrupsie teen Gugu Ntshangase, die voormalige munisipale bestuurder van die Emadlangeni Plaaslike Munisipaliteit, by die Valke in Pietermaritsburg vir verdere ondersoek ingedien.
Dít volg nadat ’n volledige interne ondersoek na beweerde korrupsie in die munisipaliteit gedoen is. ’n Verslag wat ná afloop van die interne ondersoek saamgestel is, bepaal dat die munisipale raad strafregtelike stappe teen Ntshangase moet neem. Dit het egter na ses maande steeds nie gebeur nie en daarom het AfriForum besluit om in te tree en klagtes teen haar by die Valke in te dien.

“AfriForum se Utrecht-tak wil graag saam met munisipale amptenare werk om te verseker dat die finansiële bestuur van die munisipaliteit glad verloop,” sê André Homann, AfriForum se Utrecht-takvoorsitter.
“Ons sien gereeld dat munisipaliteite se finansies vir persoonlike verryking misbruik word en dit is die gemeenskap wat daaronder ly,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal. “Ons moedig munisipale amptenare daarom aan om na vore te kom indien hulle van korrupte aktiwiteite bewus is sodat die skuldiges aan die pen kan ry. Dit is almal se verantwoordelikheid om korrupsie hok te slaan.”

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings