|

AfriForum lê klagtes teen EFF se sekretaris-generaal

AfriForum het vandag by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion klagtes van aanhitsing tot geweld gelê teen Godrich Gardee, sekretaris-generaal van die EFF. Die organisasie het die klag gelê op grond van artikel 18 van die Wet op Oproerige Byeenkomste, 17 van 1956.

Dit volg op Gardee se onlangse twiet dat kleefmyne in die Loftus Versfeld-stadion – waar Angus Buchan binnekort ’n geleentheid beplan –vóór die geleentheid versteek moet word. Buchan het spesifiek Afrikaners uitgenooi om dié geleentheid by te woon.

“Die ontstellende twiet deur die sekretaris-generaal van die EFF blyk daarop te dui dat die party glo dat dit geweld teen Suid-Afrikaanse burgers kan aanhits sonder om enige gevolge daarvoor te dra. Gewelddadige dreigemente van dié aard het geen plek in die samelewing nie, veral nie as dit van die sekretaris-generaal van die derde grootste politieke party in Suid-Afrika kom nie,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte by AfriForum.

AfriForum het ook ’n klag van haatspraak teen Gardee by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie aanhangig gemaak.

Volgens Van Zyl, beskou AfriForum Gardee se dreigende twiet as uiters gevaarlik en kwaadwillig. “Die burgerregteorganisasie het daarom stappe gedoen om te verseker dat geregtigheid deur die korrekte regskanale plaasvind. Ons spoor die owerheid aan om behoorlik teen Gardee op te tree om verantwoordbaarheid te verseker en dat dit as afskrikmiddel kan dien vir diegene wat in die toekoms gewelddadige dreigement van dié aard wil maak,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings