AfriForum lê klag ná munisipaliteit besoedel


AfriForum se Bothaville-tak het op 1 Februarie 2019 ’n klag by die Nala Plaaslike Munisipaliteit ingedien nadat dit aan die lig gekom dat munisipale werkers vullis onwettig op verskeie areas rondom die dorp stort. Die munisipaliteit versuim verder sy plig omdat daar nie meer ’n funksionerende vullisterrein in of naby Bothaville geleë is nie.

Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wet no. 59 van 2008), rus die verantwoordelikheid van vullisverwydering en instandhouding van vullisterreine by die munisipaliteit. ’n Vullisterrein moet ook aan bepaalde vereistes voldoen. Hierdie vereistes sluit toegangsbeheer en regulasies oor onwettige storting, omheining en rehabilitasie, asook brandregulasies in. Die vullisterrein wat Bothaville voorheen gebruik het, voldoen aan geen van hierdie vereistes nie.

Die klag is aan Ben Mokomela, munisipale bestuurder van die Nala Plaaslike Munisipaliteit, gelewer. Foto’s wat bewys hoe munisipale werkers vullisvragmotors in ’n veld leegmaak, asook van grootskaalse lugbesoedeling wat deur die onwettige verbranding van vullis veroorsaak word, is saam met die klag ingehandig. “AfriForum dring daarop aan dat die Nala Plaaslike Munisipaliteit dringend aan hierdie saak moet aandag skenk en met ’n aksieplan vorendag kom. Die takbestuur het ook ’n vergadering met die munisipaliteit versoek om hierdie kwessies namens die gemeenskap te bespreek,” sê Stephen Nel, distrikskoördineerder vir Mooirivier.

AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine in die omgewing ooreenkomstig gestelde standaard funksioneer.

Soortgelyke plasings