|

AfriForum lê 8 570 km af tydens week 3 van Maand van Selfstandigheid-veldtog

Die burgerregte-organisasie AfriForum het tydens die derde week van sy Maand van Selfstandigheid-veldtog grootskaalse padinfrastruktuurprojekte uitgerol in Kuruman, Kathu, Marble Hall, Sannieshof, Wolmaransstad, Tzaneen, Coligny, Vryburg, Ermelo, Welkom, Bethlehem, Lichtenburg, Sasolburg, Secunda, Bethal, Heilbron en die Pretoriase Moot.

Tydens dié projek word paaie herstel en opgegradeer, verwyderde stoptekens vervang en voetoorgange en spoedhobbels geverf in dorpe waar paaie nie aan die minimumvereistes voldoen soos wat in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit word nie. Die burgerregte-organisasie het dié paaie geïdentifiseer nadat hy in September vanjaar ’n veiligheidsoudit op munisipale paaie gedoen het.

Tydens die derde week het AfriForum sowat 8 570 kilometer gereis om in ʼn totaal van 17 dorpe altesaam 48 stoptekens op te rig. Sowat 10 000 liter verf is ook gebruik om altesaam 71 stoptekens en 30 spoedhobbels te verf.

Die burgerregte-organisasie gaan tydens dié projek R2 miljoen aan die munisipale padinfrastruktuur van dorpe met aktiewe AfriForum-takke bestee.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is sterk burgerlike organisasies soos AfriForum ’n voorvereiste vir die suksesvolle uitvoer van selfdoenaksies.

“Talle klein selfdoenaksies maak saam ’n reuseverskil. Diegene wat op plaaslike vlak by AfriForum se selfdoenaksies betrokke is, is elkeen ’n leier in eie reg.”

Die projek word vandeesmaand na verskeie ander dorpe uitgebrei.

Soortgelyke plasings