| | | |

AfriForum laat geen steen onaangeroer om buurtwagte tydens inperking te aktiveer

In ’n poging om buurtwagte en ander veiligheidstrukture toe te laat om tydens die staat van inperking aktief te funksioneer, het die burgerregteorganisasie AfriForum ’n brief aan Bheki Cele, die Minister van Polisie, gerig om ’n dringende vergadering met hom te versoek. Die organisasie het ook ’n aanlyn petisie van stapel gestuur om openbare steun te werf.

In die skrywe beklemtoon AfriForum die belangrike en noodsaaklike rol wat buurt-, plaas- en plotwagte, asook soortgelyke veiligheidstrukture in hul onderskeie gemeenskappe verrig. Die skrywe fokus ook op verskeie wyses waarop die Minister hierdie strukture moontlik binne die raamwerk van die wet kan benut. Die petisie sal as bewys dien dat die publiek die herinstelling van buurtwagte en ander veiligheidstrukture tydens die inperking ondersteun en die regering help oortuig dat dit wel ’n noodsaaklikheid is.

“Die COVID-19-pandemie bring nuwe uitdagings vir almal, maar ons glo werklik dat AfriForum se buurtwagte en ander veiligheidstrukture waardevolle ondersteuning aan sowel die regering as ons gemeenskappe in hierdie onsekere tyd kan bied. Ons buurtwaglede is goed opgelei en het in baie gevalle jarelange verhoudings met plaaslike wetstoepassing- en nooddienste. Hulle ken hul gemeenskappe en kan sekere take doeltreffend aanpak, wat die gebrek aan broodnodige vermoë van ander rolspelers kan verlig,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum glo dat buurtwagte en hul lede met die voldoende riglyne en instruksies van die regering op só ’n wyse kan werk dat daar nie ’n bedreiging bestaan om die koronavirus verder te versprei nie. Boonop sal hierdie riglyne verhoed dat buurtwaglede hulself in gevaar stel terwyl hul die gemeenskap dien.

“Die regering het reeds aangedui dat die impak van die COVID-19-krisis vir maande lank gevoel sal word. Verskeie polisiestasies is reeds weens infeksies gesluit en verskeie polisie- en weermagamptenare het al die virus opgedoen. Ons sal veel eerder ’n raamwerk in samewerking met die Minister wil vestig wat ons strukture in staat stel om tot die bestaande beskikbare vermoë by te dra. Die dag mag kom wanneer die Minister die verlore vermoë moet vervang en dan is dit dalk reeds te laat,” sê Cameron.

AfriForum moedig lede van die publiek aan om die petisie by die volgende skakel te teken:
https://forms.gle/NQMKHyAPU1ApNJGr8.

Soortgelyke plasings