AfriForum kry lasbrief om beslag op Malema en EFF se bates te lê – balju nou betrek


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 1 November 2018 ’n lasbrief by die Noord-Gautengse hoë hof in Pretoria bekom om beslag op roerende bates van Julius Malema en die EFF te lê, ter delging van ’n bedrag van R337 758.68 wat deur Malema – in sy persoonlike hoedanigheid – en die EFF as party aan AfriForum verskuldig is. Die uitgereikte lasbrief word nou aan die betrokke balju gestuur om Malema en die EFF se roerende bates te identifiseer en op te skryf, met die oog om dit op ’n openbare veiling te verkoop.

Malema en die EFF skuld AfriForum dié bedrag, nadat die Noord-Gautengse hoë hof sedert Maart 2017 twee kostebevele teen Malema en die EFF, ten gunste van AfriForum, uitgereik het. Malema en die EFF het hierdie hof se bevele om AfriForum se regskostes te betaal verontagsaam, wat daartoe gelei het dat AfriForum nou ’n lasbrief ter beslaglegging van hulle bates bekom het.
Die kostebevele spruit uit ’n hofgeding wat AfriForum teen Malema en die EFF aanhangig gemaak het om ’n interdik te bekom wat hulle verbied om mense aan te hits om grond onwettig te gryp of te betree. Die Noord-Gautengse hoë hof het op 7 Maart 2017 in AfriForum se guns beslis en die interdik toegestaan. Malema en die EFF het daarna ’n tersydestellingsaansoek teen die interdik gebring, wat op 12 September 2017 aangehoor sou word. Die hof moes egter die saak uitstel, nadat Malema en die EFF se hoofde van betoog laat ingedien is. Die regter het gevolglik ’n bestraffende kostebevel teen Malema en die EFF uitgereik. Malema en die EFF se regsverteenwoordigers het nie vir die daaropvolgende hofverskyning in Maart vanjaar opgedaag nie en die saak is in AfriForum se guns beslis, met ’n verdere kostebevel teen Malema en die EFF.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê dat AfriForum vasberade is om die verskuldigde bedrag van Malema en die EFF in te vorder en die geld dan aan te wend om grondgrype en aanhitsing verder te beveg. “Julius Malema en sy party – wat geweld en anargie aanmoedig – kan verseker wees dat AfriForum hulle geld en bates op dié manier téén hulle sal gebruik om vir geregtigheid te veg,” sê Cameron.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal hulle binnekort besluit op watter roerende bates van Malema en die EFF hulle vir beslaglegging sal fokus. “Ongeag of dit ’n Breitling-horlosie, luukse voertuig, of rekenaars en meubels in die EFF se kantoor is waarop AfriForum op beslag moet laat lê om die geld te verhaal, sal ons seker maak dat ons wel die geld kry om sodoende ook ’n duidelike boodskap aan Malema en die EFF te stuur dat hulle nie bo die reg verhewe is nie,” voeg Kriel by.

Kriel wys daarop dat AfriForum ook, voortvloeiend uit die interdik, ’n saak van minagting van die hof teen Malema aanhangig gemaak het. Die saak sal volgens huidige aanduidings op 14 November 2018 in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor word. Volgens Kriel is hy vol vertroue dat AfriForum ’n sterk saak het om Malema ook met dié regsaksie tot verantwoording te laat roep.

Soortgelyke plasings