| | |

AfriForum kry hofoorwinning teen hidrobreking in die Karoo

AfriForum is reeds jare lank saam met die Treasure the Karoo Action Group (TKAG) besig met litigasie om die inwerkingstelling van hidrobreking vir gasontginning in die Karoo te verhoed.

Vandag is ’n oorwinning in die appèlhof in Bloemfontein behaal waar die organisasies se aansoek teen die ministers van minerale hulpbronne en omgewingsake vir die tersydestelling van die regulasies oor petroleumeksplorasie en produksie, soos afgekondig in 2015 en wat voorsiening maak vir hidrobreking in Suid-Afrika, geslaag het.

’n Volbankregters het in die guns van die burgerregtewaghond en die TKAG beslis en toegegee dat die minister van minerale hulpbronne nie die mag en bevoegdheid gehad het om die regulasies vir petroleumeksplorasie en produksie inwerking te stel nie. Die minister van omgewingsake moes wel eienaarskap van die proses en regulasies neem.

AfriForum en die TKAG het vroeër aangevoer dat die regulasies op verskeie gronde onwettig is.

Nadat AfriForum se aanslag in die Noord Gautengse hoë hof onsuksesvol was, maar ’n soortgelyke aansoek deur ’n ander nieregeringsinstelling in die Oos-Kaapse hoë hof geslaag het, het albei die sake in Mei vanjaar voor die appèlhof met appèlle en kruisappèlle voor vyf appèlregters beland. Uitspraak is toe voorbehou.

Morné Mostert, hoof van plaaslikeregering by AfriForum, sê vandag se uitspraak is ’n  groot oorwinning om te verseker dat die omgewing nie beskadig word nie. “Ons moet verseker dat volgende generasies ‘n plek het om volhoubaar te kan lewe en dat kortsigtige besluite nie geneem word nie.”

Hy sê die uitspraak bewys ook dat dit belangrik is dat die departemente van minerale hulpbronne en omgewingsake eerder met organisasies soos AfriForum en die TKAG moet konsulteer as om blatant voort te gaan en verkeerde besluite te neem.

Jonathan Deal, uitvoerende hoof van TKAG, sê vandag se uitspraak is ’n  regverdiging vir die bekommernisse wat AfriForum en die TKAG rondom die regulasies en tegnologie vir hidrobreking het. Die oorwinning is moontlik gemaak danksy AfriForum se volgehoue steun en hulpbronne om die hofstryd te voer. “AfriForum beskerm burger- en menseregte en werk vir die gemeenskap en die man op straat. Ons sal saam met hulle voortgaan om die land teen die skade van hidrobreking te beskerm.

“Suid-Afrika het net nie genoegsame hulpbronne om hierdie bedryf te kan hanteer nie – water is nie ’n hulpbron waarmee ons kan mors nie,” meen Deal.

Shell het reeds sy hidrobrekingplanne in die Karoo afgeskaal weens volgehoue druk deur AfriForum en die TKAG.

AfriForum en die TKAG is baie bekommerd dat gasontginning deur hidrobreking die skaars ondergrondse waterbronne van die Karoo permanent kan vergiftig en beskou dié regstryd as ’n stryd om lewe en dood.

AfriForum het die saak met koste gewen.

 

Soortgelyke plasings