|

AfriForum-konvooi lewer petisie en keelvolbrief vir Zuma af

Die burgerregte-organisasie het vandag ’n petisie met 175 000 handtekeninge en ’n keelvolbrief aan verteenwoordigers van die presidensie by die Uniegebou in Pretoria afgelewer om Suid-Afrikaners se misnoeë met geweldsmisdaad te kenne gegee.

Die akteur en aktivis Steve Hofmeyr het saam met ondersteuners van AfriForum in ’n konvooi na die Uniegebou gekry waar beswaar gemaak is teen die regering se ignorering van die misdaadkrisis in die land.

In ’n memorandum wat oorhandig is, het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof, pres. Jacob Zuma ingelig dat die publiek ook keelvol is vir die toenemende aantal plaasaanvalle en –moorde wat deur retoriek en aksies eerder aangemoedig as verminder word.

Hy het gevra of Zuma weet dat daar tussen 1991 en 2001 reeds 6 122 plaasaanvalle en 1 254 plaasmoorde was. “Weet u dat die Instituut vir Veiligheidstudies bereken dat Suid-Afrikaanse boere teen ’n koers van 120/100 000 vermoor word?”

Roets het gesê in die lig van die inligting wat opnuut onder Zuma en die regering se aandag gebring is, word dringend gevra vir die ontplooiing van tydelike landelikeveiligheidseenhede en dat die regering hom daarvan moet weerhou om grondbesetting en geweld teenoor boere en plase aan te hits.

Hofmeyr het gesê hy is reeds vir jare by die stryd teen plaasmoorde betrokke. “Wat hierdie regering in terme van mislukkings reggekry het, is maklik vir enige regering. Maar om só swak te wees en só ’n swak president aan bewind te hou, moet jy wragtig swak wees. Dit sal geen duit verskil maak om Zuma te verwyder nie. Hierdie land het ’n diep inkeringsproses en ’n drastiese ideologiese verandering nodig. Ek sien nie ’n goeie toekoms in die land met sosialisme as uitgangspunt nie. En solank die meerderheid van die bevolking hierdie regering bly instem, gaan niks verander nie.”

Hofmeyr het gesê Suid-Afrikaners het geen ander keuse as om hulself te beveilig nie aangesien die polisie en regering dit nie doen nie.

AfriForum het na afloop van die oorhandiging ’n nuuskonferensie gehou waar die plaasmoord- en plaasaanvalstatistieke vir die 2016/2017 finansiële jaar vrygestel is.

Lorraine Claasen, misdaadanalis by die AfriForum Navorsingsinstituut (ANI), het gesê die totale aantal geverifieerde plaasaanvalle vir dié tydperk is 357 en die aantal plaasmoorde ’n kommerwekkende 74.

“Plaasmoorde is sedert die begin van die jaar ook internasionaal in die kollig met wrede moorde op landsburgers van onder meer Brittanje en Nederland. As die frekwensie van plaasaanval- en plaasmoordvoorvalle deur die 2017-kalenderjaar dieselfde bly, blyk dit dat die syfers weer gaan toeneem. Sedert die begin van die jaar was daar 113 aanvalle en 29 plaasmoorde.”

Volgens Claasen is dit van kritiese belang dat mense in landelike gebiede hul veiligheid moet opskerp. “Verander jou roetine hoe jy na jou pompe, landerye of vee ry. Moenie op dieselfde tyd by die huis vertrek en aankom nie. Ry om jou plaashuis of erf voordat jy hekke opsluit. Kyk uit vir tekens soos of daar aan hekke of deure gepeuter is voordat jy ingaan. Maak ’n punt daarvan om gereeld met jou bure en naasbestaandes te skakel om hulle van jou bewegings in te lig en/of hul aandag te vestig op vreemde omstandighede soos onbekende voertuie in jul omgewing. Mense in landelike gebiede is afgesonderd en kwesbaar. Hulle moet mekaar se oë en ore wees om hulself sodoende te beskerm.”

 

Soortgelyke plasings