--> -->
Spyskaart +

AfriForum-kongresmosies: Gemeenskappe moet na eie veiligheid omsien

Augustus 29, 2015 deur Esmarie Prinsloo

“Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) kan nie meer vertrou word om misdaad in Suid-Afrika na behore te beveg nie, daarom sal AfriForum-gemeenskappe regoor die land mobiliseer om na hul eie veiligheid om te sien.”

Dít is een van 15 mosies wat vandag by AfriForum se Nasionale Kongres deur meer as 400 afgevaardigdes geneem is.

“Hoewel die kongres sy dank uitgespreek het teenoor die vele polisiebeamptes wat uitstekende werk doen, wys die werklikheid dat ons slegs vry, veilig en voorspoedig in Suid-Afrika sal kan wees as ons self na ons veiligheid omsien,” het Cornelius Jansen van Rensburg, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê.

Die kongres het ook besluit dat die stigting en versterking van gemeenskapsveiligheidsnetwerke een van AfriForum se kernprioriteite sal wees en dat AfriForum nie net op nasionale vlak nie, maar ook in plaaslike gemeenskappe, ’n praktiese veiligheidsfokus sal ontwikkel. Die kongres het ook ’n mosie van wantroue teen die nasionale polisiekommissaris, genl. Riah Phiyega aanvaar en eenparig besluit dat sy uit haar pos onthef behoort te word.

Ander mosies wat by die kongres aanvaar is, sluit die volgende in:

  • Waar en wanneer radikale groepe soos die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) poog om grond te gryp, sal AfriForum gemeenskappe mobiliseer en verseker dat grondeienaars se regte deur regsaksies beskerm word. Buurtwagte sal ook gebruik word om AfriForum-lede se veiligheid te verseker.
  • Die kongres het kennis geneem van die verswakking in staatskapasiteit wat onder meer tot ʼn verval in munisipale en ander dienste lei. Hoewel AfriForum hierdie situasie as ’n skending van sy lede se regte beskou, meen die kongres dat staatsafhanklikheid deur gemeenskapselfstandigheid vervang moet word.
  • Die kongres het herbevestig dat AfriForum hom nie sal laat voorskryf deur idees wat op ’n gegewe tydstip polities gewild is nie, maar dat AfriForum, in die uitvoer van sy veldtogte, altyd sal toesien dat sy optrede opbouend en tot die bevordering van sy visie en missie is. Die kongres is egter van mening dat politieke korrektheid en moreel regverdigbare optrede nie noodwendig dieselfde is nie. Gevolglik is besluit dat politieke korrektheid nie die organisasie sal voorskryf nie, maar dat die organisasie se optrede altyd moreel regverdigbaar moet wees.
  • Die kongres het verklaar dat, hoewel AfriForum ’n bepaalde fokus op Afrikaners as minderheidsgroep het, dit nie impliseer dat AfriForum in vyandskap met enige ander gemeenskap funksioneer nie. Inteendeel, AfriForum se nasionale en plaaslike strukture sal daarna streef om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder. Die kongres het ook aanvaar dat dit nie in Afrikaners se belang is om Afrikanerskap te bevorder tot nadeel van ander gemeenskappe nie.

Die kongres is bygewoon deur verteenwoordigers van AfriForum se 150 plaaslike strukture van regoor Suid-Afrika.