|

AfriForum kondig plan aan om Parys-boere by te staan

Die burgerregte-organisasie gaan die vier boere van Parys in die Vrystaat bystaan met hul regskoste nadat hulle van moord aangekla is op twee plaasaanvallers.

Boeta van der Westhuizen, Johan Cilliers sr., Johan Cilliers jr. en  Anton Loggenberg is vandeesweek elk op borgtog van R5 000 vrygelaat en moet op 12 Februarie weer in die hof verskyn.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van die AfriForum, het dit betreur dat die saak in die hof beslis moet word. “Dit is nie die boere wat in die beskuldigdebank moet sit nie, maar eerder die staat. Die saak is nie so eenvoudig soos dit lyk nie. Plaasmoorde en –aanvalle teister die hele land, maar dié en ander boere-gemeenskappe in die besonder. Daarmee saam hang die feit dat die polisie weier om hierdie misdade te prioritiseer en dit behoorlik te ondersoek.”

Roets het gesê plaasmoorde en –aanvalle lei tot wantroue in die polisie en regering en dit dra by tot groter rassespanning in die land. Gemeenskappe leef in vrees.

In die Parys-omgewing was daar al van die wreedste plaasmoorde denkbaar.

Ernst (77) en Annatjie van Rooyen (76) is in Januarie 2013 wreed aangerand en vermoor. Annatjie is in ’n vrieskas toegesluit en het versmoor.

In 2010 is die gemeenskap geruk toe die 40-jarige boer Johan Strydom vermoor is. Hy is oor die kop geslaan, ’n ketting om sy enkel gebind en agter sy bakkie aangesleep.

Die Parys-boere se hofverskyning spruit voort uit ’n aanval verlede week op Van der Westhuizen se pa, Loedie (72). Hy is laatmiddag op sy plaas deur twee mans oorval waarvan een gewapen was. Die man het hom met die wapen aangehou en geld van hom geëis. Hy is aangerand nadat hy daarin kon slaag om die noodknoppie in die huis te druk. Die aanvallers het op die vlug geslaan. Die gemeenskap se boere asook boere van omliggende dorpe het gemobiliseer om die aanvallers aan te keer.

Hulle is aan die polisie oorhandig en later dood.

Isaac Tshabalala, ondersoekbeampte in die saak, was die staat se enigste getuie en het toegegee daar is geen saak teen die aangeklaagde boere nie en dat hulle net gearresteer is omdat hulle aan die polisie bekend is.

Die staat het aangevoer dat hy nie genoeg tyd gehad het om die saak te ondersoek nie en het versoek dat landdros Leshni Pillay die borgtog-aansoek uitstel.

Die vier mans se regsverteenwoordigers het aangevoer hulle is onregmatig in hegtenis geneem en dat daar geen bewyse teen hulle is nie.

Pillay het haar sterk uitgespreek oor die staat en polisie se swak hantering van die saak en ondersoek. Sy het gesê die mans se grondwetlike regte sal benadeel word indien hulle verder aangehou word.

ANC- en EFF-lede het ten tyde van die boere se hofverskyning verskeie rassistiese en haatspraak-uitsprake gemaak.

Betogers by die hof
Betogers by die hof

Roets het gesê AfriForum sal die hofverrigtinge volg. Hy het dit verwelkom dat die landdros die staat en polisie aangespreek het oor hul onvermoë om die saak behoorlik te ondersoek. “Elke landsburger het die reg op ’n behoorlike regsplegingsproses.”

AfriForum se plan om die boere by te staan, sluit in:

  • Hulp met regskoste.
  • Lede van die publiek kan ook bydra deur R10 te skenk en “Parys Boere” na 38312 te SMS.
  • AfriForum het verskeie versoeke van die publiek ontvang wat donasies wil maak om die boere by te staan. Bydraes kan inbetaal word by: AfriForum NPC, FNB Centurion, Rekeningnommer: 62349898398, Takkode: 261550. Gebruik die verwysing “Parys Boere”. AfriForum se finansiële afdeling sal skenkings in samewerking met die beskuldigdes se familie monitor en aanwend.
  • AfriForum het sy regspan opdrag gegee om ondersoek in te stel nadat ANC- en EFF-omstanders by die hof na bewering die lied Kill the Boer, kill the farmer gesing het.

 

Soortgelyke plasings