|

AfriForum kla Malema aan vir afvuur van vuurwapen

Die burgerregte-organisasie het pas ’n klag teen Julius Malema, leier van die EFF, by die Lyttelton-polisiestasie ingedien ingevolge artikel 120 (7) van die Wet op die Beheer van Vuurwapens.

Malema het in die naweek glo kort ná die feesvieringe van die party se 5de bestaansjaar by die Sisa Dukashe Stadion in Mdantsane in die Oos-Kaap skote afgevuur met iets wat soos ’n aanvalsgeweer gelyk het.

In ’n video, wat ’n storm op sosiale media ontken het, sing en dans EFF-lede op die verhoog. Tydens ’n lied, beweeg Malema na een kant van die verhoog waar dit lyk of hy verskeie skote met ’n geweer afvuur.

Hy handig dit daarna oor aan ’n persoon wat op die oog af lyk soos Adriaan Snyman, eienaar van ‘n sekeriteitsmaatskappy. Snyman was ’n paar jaar gelede ook in omstredenheid gedompel toe hy een van Malema se lyfwagte was.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het in mediaberigte ontken dat dit ’n regte geweer is.

Marnus Kamfer, van AfriForum se veiligheidsafdeling, het die klag by die polisie ingedien. Die klag hou verband met sy optrede dat die skote in ’n openbare ruimte afgevuur is en ook dat hy nie ’n vuurwapenlisensie het nie.

“Malema se optrede verbaas nie meer nie. Dit is duidelik dat hy nie enige respek vir wet en orde het nie.”

Malema was ook vroeër die week in die nuus nadat sy aansoek om die aanklagte teen hom voorlopig te laat vaar hangende ’n uitspraak in die Noord-Gautengse hoë hof, waar hy die grondwetlikheid van die Wet op Oproerige Byeenkomste van 1956 uitdaag, in die landdroshof in Bloemfontein misluk het.

AfriForum het Malema vroeër aangekla omdat hy EFF-ondersteuners in 2014 tydens die party se verkiesingskonferensie in Bloemfontein aangemoedig het om grond onwettig te beset.

Kort nadat Malema die hofsaal verlaat het, het van sy ondersteuners die balju van Bloemfontein, Chris de Wet, rondgestoot en verhinder dat hy hofstukke aan hom beteken. Hy is ook erge rassistiese aanmerkings toegesnou en die polisie het ook verhoed dat die stukke op Malema beteken word. De Wet het probeer om hofstukke namens AfriForum aan Malema te beteken wat daarop gemik is om Malema in te lig dat die organisasie op 14 November ’n aansoek in die Noord-Gautengse hoë hof wil bring om hom aan minagting van die hof skuldig te bevind.

Soortgelyke plasings