AfriForum kla Malema aan oor afvuur van skote


Die burgerregte-organisasie AfriForum het pas klagtes teen Julius Malema, leier van die EFF, by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion ingedien. Dié klagtes volg nadat Malema die afgelope naweek tydens die EFF se 5-jaarfeesvieringe in Mdantsane in die Oos-Kaap verskeie skote met ’n aanvalsgeweer afgevuur het.
Dié klagtes sluit in: Die afvuur van ’n vuurwapen in ’n beboude of openbare plek sonder genoegsame rede, asook die besit van ’n vuurwapen en ammunisie sonder die nodige lisensie en magtiging.
Die videogreep waaruit die klagtes spruit is wyd op sosiale media versprei. Dit is na bewering deur ’n polisielid opgeneem wat ook gepoog het om klagtes op grond van die video teen Malema in te dien. Volgens hierdie persoon het die polisie egter geweier om die klagtes te aanvaar. AfriForum is bekommerd dat die SAPD se optrede in hierdie verband nie strook met hul beweerde siening in die media rakende hul kommer oor vuurwapens nie.

“Malema bevestig weer eens dat sy modus operandi behels om blatant en sonder respek vir enige wetgewing of regsprekende gesag op te tree. As leier van ’n politieke party is hierdie optrede roekeloos, aangesien sy ondersteuners sy optrede en minagting van die gereg moontlik kan navolg. Sy optrede kom neer op die blatante opsweep van mense en kan eenvoudig nie ongestraf verbygaan nie,” sê Marnus Kamfer, regs- en risikobestuurder van AfriForum se gemeenskapsveiligheidsafdeling.

Soortgelyke plasings