AfriForum kla 12 mense strafregtelik aan weens aanhitsing tot geweld en moord


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vanoggend strafregtelike klagtes teen 12 individue ingedien wat herhaaldelik rassistiese boodskappe op sosiale media geplaas het, wat geweld en moord aanhits. Die beëdigde verklarings, wat met die hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die strafregkenner dr. Llewellyn Curlewis voorberei is, bevat uitgebreide verslae oor dié 12 individue en die opmerkings wat hulle gemaak het.
Die beëdigde verklarings, wat met die hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die strafregkenner dr. Llewellyn Curlewis voorberei is, bevat uitgebreide verslae oor dié 12 individue en die opmerkings wat hulle gemaak het.

“Daar blyk ’n algemene wanopvatting te wees dat enigiets wat mens op sosiale media sê op een of ander wyse aanvaarbaarbaar is en sonder gevolge sal bly. Openbare woede en mediadekking word skynbaar gereserveer vir of beperk tot ’n paar gevalle. Ons het die publiek daarom uitgenooi om ons van skermgrepe te voorsien wat haatspraak, rassisme of aanhitsing tot geweld bevat. Die reaksie was oorweldigend,” sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van  AfriForum.

AfriForum het die SAPD versoek om dié 12 individue sonder verwyl te ondersoek, hul identiteite met betrekking tot die sosialemediarekening na te gaan en van die toepaslike oortreding aan te kla. Om die proses te bespoedig, het AfriForum die SAPD versoek om op gereelde grondslag terugvoer te gee en ook aangebied om enige hulp te verleen wat die organisasie moontlik kan.

“Ons is bekommerd oor die intensiteit van sommige van die boodskappe en skermgrepe wat ons ontvang het. In teenstelling met ander gevalle, wat aansienlike aandag in die media geniet en wat meestal oor rassistiese aanmerkings gegaan het, is baie van die skermgrepe wat ons ontvang het egter oproepe om wapens op te neem, asook versoeke of oproepe om mense dood te maak of te skaad. Ons is bekommerd dat dié sake – hul ernstiger aard ten spyt – tot op hede nog nie aangespreek of tot dieselfde mate veroordeel is nie,” sê Roets.

AfriForum is van plan om meer klagtes te lê, afhangend van die uitkoms van die eerste 12 gevalle. Ons versoek die publiek daarom om steeds voorbeelde van rassisme, haatspraak en aanhitsing tot geweld aan rasklag@afriforum.co.za te stuur.

Soortgelyke plasings