|

AfriForum kap teen prospekteeraansoek in Dullstroom

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het op 5 Februarie 2020 ’n skrywe aan Singo Consulting (Edms.) Bpk. gerig nadat dit aan die lig gekom het dat dié maatskappy namens Gadebe Investments aansoek doen om prospekteerregte vir steenkool in die Dullstroom-omgewing. AfriForum het ook as ’n belanghebbende en geaffekteerde party (IAP) geregistreer.

AfriForum bevraagteken die proses aangesien daar net soos verlede jaar reeds heelwat ongerymdhede is met die proses wat Singo Consulting gevolg het. AfriForum het op 14 Augustus 2019 ’n strafregtelike klagte by die Komatipoort-polisiestasie ingedien nadat dit aan die lig gekom het dat Singo Consulting na bewering bedrog in die vorm van plagiaat in hul omgewingsimpakstudie gepleeg het (saaknommer: 109/8/2019).

Lambert de Klerk, bestuurder vir omgewingsake by AfriForum, sê die skrywe is gerig nadat klagtes uit die gemeenskap ontvang is dat Singo Consulting die kennisgewing in die Middelburg Observer gepubliseer het. “Dié koerant word nie eens in Dullstroom versprei nie en die wet vereis dat die direkte gemeenskap in kennis gestel moet word.”

Volgens De Klerk het die mense wat as IAP’s geregistreer het nog net ’n liggingskaart ontvang terwyl die wet vereis dat alle nodige inligting wat van belang is aan geregistreerde IAP’s verskaf moet word.

“Ons wil graag gemeenskapslede en belangegroepe aanmoedig om as ’n IAP te registreer om kommentaar teen die beoogde prospekteeraansoek in te dien,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.

AfriForum sal kommentaar oor die aangeleentheid indien sodra Singo Consulting die nodige inligting verskaf.

Soortgelyke plasings