AfriForum kap minister se R30 miljard-bedrag vir NGV


Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag gesê die regering se bykomende R30 miljard per jaar vir Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is ’n onberekende bedrag wat buitendien heeltemal te min sal wees om só ’n stelsel te bedryf. Die Sondagblad Rapport het op 14 Julie 2019 berig dat dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, hierdie bedrag aangehaal het as iets wat in die toekoms hieraan bestee sal word.

Dr. Eugene Brink, gesondheidswoordvoerder by AfriForum, sê die noem van hierdie bedrag en die minister se uiteensetting van die besteding wys net weer op hoe onwerkbaar hierdie stelsel werklik is. “Dit is nog iets wat uit die duim gesuig is en dit sal nie naastenby genoeg wees om die volle reeks gesondheidsprioriteite te benader nie. Parlementslede (LP’s) het onlangs bedrae deur die tesourie aangehoor oor hoe die departement van gesondheid nie R600 miljoen, wat glo vir NGV bestem was, in die vierde kwartaal van 2018 kon bestee nie. Hoe wil hulle dan ’n bykomende R30 miljard hieraan bestee?”

Brink noem dat Suid-Afrika in wese reeds oor iets soos universele gesondheidsorg beskik. “Enigiemand kan openbare hospitale besoek, maar weens hul grootliks swak toestand is hulle ondoeltreffend om aandag aan die publiek se behoeftes te gee. Die minister se taak is om die huidige openbare gesondheidstelsel op te knap met die fondse tot sy beskikking en nie die publiek te melk en die privaat gesondheidsektor te vernietig nie.”

Kortom, sê Brink, is dit ’n baie vae uiteensetting van die R30 miljard se besteding en een wat bestaande prioriteite weerspieël.

“Mkhize het genoem dat die R30 miljard byvoorbeeld aan chroniese medisyne en besoeke aan voorgeboorteklinieke bestee gaan word. Hierdie bestedingsprioriteite is goed wat buitendien deur die departement gedoen moet word, ongeag die NGV se inwerkingstelling. Tans word dit treurig gedoen en dit moet bloot verbeter word, maar dit word nou nie eens gedoen nie ondanks beskikbare fondse. Dit sluit ook in die vasgestelde tariewe vir dokters om ’n sekere aantal pasiënte in ’n area te bedien. Dit maak die verkeerde aanname dat daar genoeg dokters is om die werk te doen en dat hulle vir vasgestelde tariewe gaan werk.”

Nog ’n vraag is waar hierdie ekstra R30 miljard vandaan gaan kom. “Die ekonomie stotter en gaan vir jare nog sukkel. Gaan hulle dit by ander begrotingsitems vat of ons bloot oor die afgrond belas? Albei opsies sal rampspoedige gevolge hê. Die NGV bly ’n hersenskim en ’n politieke ANC-besluit wat nie deur die fiskus gefinansier kán word nie.”

Soortgelyke plasings