|

AfriForum kap Cele oor prioritisering van plaasmoorde; verskerp veldtog

AfriForum het vandag skerp gereageer op die stelling van Bheki Cele, Minister van Polisie, dat plaasmoorde nie prioriteitsmisdade moet wees nie. Dié burgerregteorganisasie beskryf die Minister se stelling as irrasioneel en diskriminerend.

Dit volg nadat Cele gister gesê het dat plaasmoorde nie as prioriteitsmisdade verklaar kan word nie omdat dit bloot verwys na voorvalle van moord, verkragting, aanranding en roof met verswarende omstandighede wat op plase voorkom.

AfriForum het intussen ’n aanlyn petisie vir die prioritisering van plaasmoorde van stapel gestuur. Elke keer wanneer iemand op dié petisie se “Stuur”-knoppie druk, word ’n e-pos direk na Cele se kantoor gestuur.

Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dat die Minister se uitdruklike stelling – dat plaasmoorde nie ’n prioriteit is nie – bevestig wat nog al die jare die werklikheid in Suid-Afrika is. “Die bewering dat dié misdaadverskynsel nie geprioritiseer kan word nie omdat dit bloot ’n verskyningsvorm van ander misdade is, is irrasioneel omdat álle prioriteitsmisdade verskyningsvorme van ander misdade is. Renosterstropery is ’n verskyningsvorm van stropery; transitorooftogte is ’n verskyningsvorm van motorkaping en ander misdade; koperkabeldiefstal is ’n verskyningsvorm van diefstal; bendegeweld is ’n verskyningsvorm van moord, aanranding en ander misdade; geweld teen vroue is ’n verskyningsvorm van ’n aantal misdade. Só kan ons voortgaan.

“Cele se uitspraak is niks anders as diskriminasie teen boere nie, omdat dit klaarblyklik nie by die regerende party se politieke projek inpas om hom met die veiligheid van voedselprodusente te bemoei nie,” voeg Roets by. “Feit is: Plaasmoorde is ’n unieke misdaadverskynsel wat unieke gevolge vir die samelewing as geheel inhou. Dit in sigself is genoeg gronde om dit te prioritiseer.”

Die publiek word aangemoedig om die petisie by www.stopdiemoorde.co.za te ondersteun.

Soortgelyke plasings