|

AfriForum kan nie vir regering wag en kyk hoe gemeenskappe ly

Die burgerregte-waghond het vandag ’n omvattende plan bekend gestel vir gemeenskappe wat onder die voortgesette Covid-19-inperking en -krisis ly.

Die plan fokus op veiligheid, die ekonomie, voedsel, gesondheid en munisipale dienste binne gemeenskappe asook skolehulpprojekte in samewerking met AfriForum Jeug. Daar is ook meer lig gewerp op AfriForum Netwerk, ’n databasis waarop meer as 10 000 ondernemings reeds gratis geregistreer het.

Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, sê die plan het ten doel om staatsonafhanklikheid, selfstandigheid en gemeenskapsamewerking te bevorder ten einde gemeenskappe en gemeenskapslede op te hef, te versterk en te ondersteun.

“Dis belangrik dat ons nou eienaarskap van ons toekoms neem en sáám bou. Die pandemie het dit meer as ooit bevestig dat gemeenskappe hulself nie kan verlaat op die hulp van die regering nie. Dit is nou meer as ooit nodig vir gemeenskappe om op ’n gestruktureerde manier te werk te gaan om hulself staatsbestand te maak. Ons kan op volhoubare selfbestuurmodelle vir munisipale dienste voortbou danksy vrywilligers wat landwyd by AfriForum-takke en -buurtwagte ingeskakel is. Só kan ernstige voedselnood verlig word, veiligheidsinisiatiewe versterk word en voldoende voorbereiding getref word vir die heropening van onder meer skole en kleuterskole.”

AfriForum, in samewerking met Solidariteit Helpende hand en Saai, het onlangs ’n grootskaalse voedselverspreidingsprojek van stapel gestuur. ’n Groeiende voedselnood staar mense reeds in die gesig, ook in minderheidsgemeenskappe, en daarom is ’n veelkantige strategie nodig wat op verskeie vlakke die voedseltekort en die uitvloeisels daarvan die hoof bied.

AfriForum se voedselstrategie is daarop gemik om die Solidariteit Helpende Hand se taak van voedselverskaffing aan behoeftiges te verlig en hulle hande sterk te maak. AfriForum se aanslag is plooibaar en word deurentyd aangepas om so doeltreffend moontlik te wees.

AfriForum, Helpende Hand en Saai ontvang tans deurlopend voedsel deur middel van skenkings van individue, sakeondernemings en boere. Die voedsel word op sentrale punte gelewer en vandaar aan behoeftige gesinne versprei. Verskeie ander inisiatiewe en loodsprojekte vir verdere voedselproduksie en -verspreiding is reeds aan die gang. Dit sluit onder meer groentetuine, die vestiging van tonnels in geskikte gemeenskappe en samewerkingsooreenkomste met plaaslike boere in.

Dié hulp aan gemeenskappe is ook beklemtoon met die bevooroordeelde en diskriminerende beleid wat die regering ten opsigte van Covid-hulp het. Die departement van toerisme se hulppakkette aan ondermenings word op grond van ’n raskriteria en swart bemagtiging gedoen. Daarom het AfriForum en Solidariteit hul reeds tot die Konstitusionele Hof gewend om uitsluitsel oor dié regulasies te kry.

Die kwessie van gemeenskapsveiligheid tydens die pandemie is ook toegelig.

Volgens Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid, het honger, armoede en die verlies aan inkomste tydens die inperking reeds tot ’n toename in misdaad gelei. Verskeie voorvalle van plundering, kapings en geweld is reeds aangemeld.

Cameron sê AfriForum se veiligheidstrukture is gerat om binne die raamwerk van die wet op te tree indien dit nodig sou wees. “Ons is tans ook besig om aanlynopleiding vir veiligheidstrukture uit te brei. AfriForum se strukture gaan ook volstoom met die verspreiding van voedsel en noodsaaklike items in gemeenskappe voort.

“Gemeenskappe het nie ’n ander keuse as om mekaar nou te help en te ondersteun nie aangesien die ANC sal toelaat dat mense verhonger. Die organisasie het ook gebeurlikheidsplanne gereed wat onmiddellik in werking gestel kan word indien misdaad drasties toeneem en mense se veiligheid bedreig word.”

Kruger het ook na ingryping op munisipale gebied verwys en gesê soos wat die regering se vermoë afneem om dienste te lewer, sal AfriForum se strukture toetree. Die dienste sal byvoorbeeld wissel van vullisverwydering tot die voorsiening van noodwaterpunte. Waar AfriForum se strukture die dienste oorneem, sal die nodige stappe egter gedoen word om die geld van die staat te verhaal.

Kruger het ook na hulp aan veral ouer mense verwys. AfriForum sal byvoorbeeld kyk waar bejaardes in ouetehuise bygestaan en ondersteun kan word asook hoe diegene gehelp kan word wat nie mediese fondse of toegang tot behandeling het nie. Inligting word ook reeds as deel van ’n immuniteit-inisiatief wyd versprei as deel van voorkoming.

Die noodsaaklikheid van ekonomiese voortuitgang in gemeenskappe is ook uitgewys. Daar is reeds met kommer kennis geneem van die voorspellings van derduisende afleggings, miljoene werksverliese en die sluiting van klein- en mediumgrootte besighede.

Kruger het verduidelik dat met behulp van die AfriForum Netwerk daar ’n landwye netwerk geskep word waar klein en mediumgrootte ondernemings maklik opgespoor, aangespoor en ondersteun kan word. Die netwerk bied gemeenskapppe die geleentheid om ondernemings in hul onmiddellike omgewing en mekaar in die tyd van nood te ondersteun.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het gisteraand ná afloop van pres. Cyril Ramaphosa se boodskap aan die land gesê die regering se planne is te min en te laat. “Die voortgesette afsonderking gaan tot katastrofiese ekonomiese gevolge, werksverliese, honger en lewensverlies lei. Die regering is nie in voeling met die gemoed en welstand van die mense nie.”

Daarom is ’n gemeenskapsplan soos hierdie nou baie dringend en van kardinale belang.

Soortgelyke plasings